AfriForum verwerp voorgestelde SAPD-vuurwapenregulasies: Wetsgehoorsame vuurwapeneienaars behoort nie vir polisie-onbevoegdheid te betaal nie
AfriForum verwerp die voorgestelde wysigings aan die Vuurwapenbeheerregulasies, 2004, wat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in Staatskoerant 55760 op 19 November 2026 vir openbare kommentaar gepubliseer het. Die organisasie voer aan dat die voorgestelde wysigings verdere onredelike beperkings op wetsgehoorsame vuurwapeneienaars plaas, terwyl die SAPD nog ernstige tekortkominge in sy eie bestuur, beheer en veilige bewaring van vuurwapens moet takel.
Die voorgestelde regulasies sluit bepalings in wat vuurwapeneienaars wie se lisensies verval het, kan dwing om hul vuurwapens binne sewe dae in te handig of daarvan ontslae te raak. Dit sluit ook bykomende diskresionêre mediese en sielkundige assesserings in en skep die moontlikheid dat vuurwapeneienaars hul vuurwapens sonder vergoeding aan die staat verbeur.
Volgens AfriForum is hierdie voorstelle disproporsioneel en plaas dit ’n onregverdige las op verantwoordelike vuurwapeneienaars. Die organisasie is veral bekommerd dat administratiewe tekortkominge, insluitend dié wat moontlik aan die SAPD self toegeskryf kan word, daartoe kan lei dat individue hul wettig verkrygde eiendom permanent verloor.
Die voorgestelde regulasies is besonder kommerwekkend in die lig van die SAPD se eie geskiedenis met die bestuur van vuurwapens. Die saak waarby die voormalige polisiekolonel Christiaan Prinsloo betrokke was, het aan die lig gebring hoe duisende vuurwapens uit die polisie se stoorfasiliteite aan kriminele netwerke verkoop is. Hierdie vuurwapens is daarna met talle moorde en ander gewelddadige misdade verbind.
Die SAPD se 2024/2025-jaarverslag maak ook melding van vuurwapens wat binne die polisiediens as verlore of gesteel aangemeld is. Verder het ’n uitspraak van die Vrystaatse Hooggeregshof in 2026 in die saak Legally Armed South Africa (Pty) Ltd v Minister of Police and Others polisiebeamptes se volgehoue versuim uitgelig om aanmeldings van verlore of gesteelde vuurwapens uit bestorwe boedels te verwerk – met die gevolg dat honderde vuurwapens nie opgespoor kan word nie.
“Dit is ernstige institusionele mislukkings wat direk verband hou met die SAPD se verantwoordelikheid om vuurwapens te bestuur en te beskerm. Dit is onaanvaarbaar dat dieselfde instelling wat nie voldoende rekenskap kan gee van vuurwapens onder sy eie beheer nie, nou toenemend beperkende vereistes aan wetsgehoorsame burgers wil stel,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.
AfriForum is veral gekant teen die voorgestelde nuwe Regulasie 28A, wat daartoe kan lei dat vuurwapeneienaars hul vuurwapens sonder vergoeding verloor as hulle nie hul lisensies binne die voorgeskrewe tydperk hernu nie. ’n Administratiewe mislukking behoort nie outomaties tot die permanente verlies van privaat besit te lei nie. Vuurwapeneienaars moet redelike geleenthede gegun word om nie-nakoming reg te stel met behoorlike waarborge teen die SAPD se administratiewe tekortkominge.
Die voorgestelde vereiste om vuurwapens binne sewe dae in te handig, is eweneens onredelik. Dit neem nie voldoende rekening met mense wat in landelike gebiede woon, individue wat moontlik reis of omstandighede buite ’n eienaar se beheer nie. Die bykomende diskresionêre bevoegdhede om mediese, sielkundige of psigiatriese assesserings te eis, skep ook geleenthede vir inkonsekwente en arbitrêre besluitneming, terwyl dit verdere koste op vuurwapeneienaars plaas.
Boonop kan die voorstelle die bedrywighede van die private veiligheidsbedryf verder kompliseer deur beperkings op die tydelike besit van vuurwapens deur veiligheidsbeamptes. Hierdie bedryf speel ’n belangrike rol in die beskerming van individue, ondernemings en gemeenskappe. Die SAPD moet ook verduidelik hoe hy beoog om voorsiening te maak vir die bykomende vuurwapens wat ingevolge hierdie regulasies ingehandig kan word, asook hoe dit veilig gestoor gaan word, gegewe die bestaande operasionele- en hulpbrontekortkominge by polisiestasies.
Suid-Afrika staar ’n ernstige geweldsmisdaadkrisis in die gesig. Misdadigers gebruik vuurwapens om moorde, gewapende rooftogte, kapings en ander geweldsmisdade te pleeg. Die prioriteit moet dus wees om polisiëring te versterk, ondersoeke te verbeter, onwettige vuurwapenhandel hok te slaan, gesteelde vuurwapens terug te vind en diegene wat daaraan skuldig is om wapens aan kriminele netwerke te verskaf, te vervolg.
“Wetgehoorsame vuurwapeneienaars is nie die oorsaak van Suid-Afrika se geweldsmisdaadprobleem nie. Die regering moet sy aandag fokus op misdadigers en die onwettige vloei van vuurwapens na kriminele netwerke in plaas daarvan om verantwoordelike burgers toenemend kwesbaar te maak vir burokratiese beperkings. Die regering kan nie voortgaan om die gevolge van sy eie mislukkings na die publiek te verskuif nie,” voeg Broodryk by.
AfriForum doen ’n beroep op vuurwapeneienaars, werknemers in die private veiligheidsbedryf, vuurwapenhandelaars, jagorganisasies, boere en ander besorgde lede van die publiek om deel te neem aan die openbare konsultasieproses. Die organisasie moedig die publiek aan om skriftelike besware in te dien waarin hulle verduidelik waarom hulle die voorgestelde wysigings en die potensiële gevolge vir verantwoordelike vuurwapenbesit en openbare veiligheid teenstaan.
Skriftelike kommentaar moet ingedien word by brigadier T. de Kamper in die SAPD se regsdienste-afdeling by dekampert@saps.gov.za. Die voorgestelde e-posonderwerp is: OBJECTION – Proposed amendment to the firearms control regulations, 2004.
Die publiek het 60 dae vanaf die publikasie van die kennisgewing op 19 November 2026 om kommentaar in te dien.
AfriForum sal enige regulatoriese maatreëls teenstaan wat verantwoordelike vuurwapeneienaars onregverdig benadeel, terwyl dit versuim om die institusionele tekortkominge op te los wat bydra tot Suid-Afrika se probleem met vuurwapenverwante misdaad. Die staat het ’n verantwoordelikheid om sy burgers te beskerm en mag nie toelaat dat verantwoordelike burgers vir sy eie mislukkings boet nie.



