Opwindende Super 12-byeenkomste weer te sien op AfriForumTV
Die Super 12 Laerskole-kompetisie – ’n jaarlikse sport- en kultuurkompetisie wat skole in die vier noordelike provinsies van die land byeenbring – se volgende sportbyeenkomste wat later vandeesmaand plaasvind, sal weer regstreeks uitgesaai word op AfriForumTV.
Die Super 12-swembyeenkoms vind eerskomende Saterdag 17 Oktober by Trinity House in Johannesburg plaas en die Super 12-atletiekbyeenkoms op 24 Oktober sal by die Hoërskool Menlopark in Pretoria gehou word. Beide uitsendings begin om 08:00. AfriForumTV se regstreekse uitsendings gee aan alle ondersteuners en familie vanaf Pretoria tot Londen en Perth die geleentheid om die aksie te volg. Die beste van alles – intekening op dié aanlyn vermaakplatform is geheel en al gratis!
Die AfriForumTV-span het intussen ook die knoop deurgehaak om te verseker dat dié opwindende reeks weer in 2027 direk uitgesaai sal word.
Volg die al aksie soos wat dit ontvou hier.
Meer oor dié skolekompetisie
Die Super 12 Laerskole-kompetisie, waarvan AfriForum die hoofborg is, is in 1999 gestig deur Laerskool Elarduspark, Laerskool Fontainebleau en Laerskool Pietersburg-Oos. Aanvanklik het 12 skole aan die kompetisie deelgeneem. In 2000 het die aantal deelnemende skole uitgebrei na 16, en in 2005 het dit verder aangegroei tot 24 skole. Agt van die oorspronklike skole is steeds aktief betrokke by die Super 12-kompetisie.
Jaarliks word daar in 14 sportsoorte en kultuuraktiwiteite meegeding as deel van laerskole se voorseisoen-voorbereiding en die ontwikkeling van deelnemende jong atlete en kultuurleerders.
Skolesport + AfriForumTV = Al die aksie, sweet en sukses op één plek
AfriForumTV se span is al goed geolie met die opneem en uitsending van uiteenlopende sportsoorte en kan ook na ander skole in Gauteng reis om opnames daar te behartig, verduidelik Shinelle Brewis, koördineerder by AfriForumTV.
“Ons doel is nie om wins te maak nie, maar eerder om die diens teen kosprys aan skole te bied sodat ouers gratis na hul kinders se byeenkomste kan kyk. Die opnames is ook ná die geleentheid beskikbaar op AfriForumTV,” sê Brewis.
AfriForumTV se opnames is nie beperk tot sport nie. Opnames kan ook gemaak word van feeste, kultuurgeleenthede of wat ook al die skool se behoefte is.
Byeenkomste word boonop nie bloot regstreeks uitgesaai nie. As deel van ’n skole-vriendelike benadering bied AfriForumTV ook die ruimte vir skole om hul eie kanaal op dié aanlyn stromingsplatform te skep sodat uitsendings ook later gekyk kan word. Skole kan self hul inhoud bestuur of van AfriForumTV se hulpbronne gebruik maak om inhoud te laai. Daar is reeds verskeie skole wat van hierdie gratis diens gebruik maak..
Besoek www.afriforumtv.co.za om meer te sien. Rig ’n e-pos aan [shinelle.brewis@afriforum.co.za om meer uit te vind oor hoe om ’n AfriForumTV-uitsending vir jou skool te reël.



