|

Meer sprankel, minder stof: AfriForum verseker Wichtstraat-herstel voor Hoogenhout-matriekafskeid

AfriForum se Bethal-tak het in September help toesien dat Hoërskool Hoogenhout se matriekafskeid meer sprankel en minder stof was en die slaggate op dié skool se voorstoep in Wichtstraat voor dié groot aand herstel. AfriForum het die arbeid en materiaal voorsien en uiteindelik 11 sakke – oftewel 275 kg – asfalt ingespan ter voorbereiding van hierdie glansgeleentheid.

Benewens dié slaggatprojek, het die Bethal-tak ook ’n verdere 2,2 ton asfalt gebruik om op versoek van ’n plaaslike inwoner, ’n rits slaggate in Rietbokstraat, langs Bethaldam, te herstel. Die tak het ook die koste van arbeid en die 85 sakke asfalt vir hierdie projek gedra.

Slaggate wat in Rietbokstraat herstel is.

Die herstel van slaggate bly intussen ’n knellende probleem in Bethal. Laerskool Marietjie van Niekerk het daarom ’n fondsinsamelingsprojek van stapel gestuur om borgskappe vir asfalt te bekom vir die herstel van strate rondom dié skool. Belangstellendes kan asfalt teen R80 per sak borg. Die mikpunt is om uiteindelik fondse vir 500 sakke op dié manier vir die herstelprojek in te samel. AfriForum sal, soos in die geval van die Hoërskool Hoogenhout-projek, die herstelwerk gratis doen.

Volgens Hennie Bekker, AfriForum se streekshoof vir Limpopo en Mpumalanga, beïnvloed die swak toestand van paaie rondom skole die veiligheid van leerders, ouers, personeel en ander motoriste en voetgangers wat daagliks dié paaie gebruik. “Deur asfalt te borg, kan inwoners en ondernemings help om hierdie strate te herstel, terwyl AfriForum die herstelwerk kosteloos doen. Só word elke borgskap omskep om ’n praktiese verskil in die gemeenskap teweeg te bring,” verduidelik Bekker.

Hy moedig die gemeenskap aan om Laerskool Marietjie van Niekerk se slaggatprojek te ondersteun. Meer inligting hieroor is beskikbaar op AfriForum se Bethal-tak se Facebook-blad.

AfriForum se Teks-buurtspan, wat in Trichardt, Evander, Kinross en Secunda werksaam is, het op hul beurt gedurende September ook verskeie skoonmaakprojekte aangepak. Meer as 15 hektaar se gras is gesny en rommel is by onder meer die Eendedam-parkie, Highveld Park en die terreine rondom Laerskool Secunda en Highveld Ridge Primary School opgeruim. Meer as 12 bakkie- en sleepwavragte rommel is tydens dié projekte opgeruim.

Jan du Plessis, voorsitter van AfriForum se Teks-tak, meen daar lê nog baie werk voor vir die res van die jaar. “Gedurende November sal ons voortgaan om slaggate te herstel en parke skoon te maak. Ons kan nie toelaat dat swak munisipale dienslewering die gehalte van inwoners se omgewing benadeel nie. Daarom sal ons voortgaan om praktiese oplossings te bied waar ons ’n verskil kan maak,” sluit hy af.

Ondersteun AfriForum se gemeenskapsprojekte. Besoek www.wordlid.co.za.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf