AfriForum vra vir sterker waarborge en gemeenskapsbetrokkenheid in IMSI-wetsontwerp
AfriForum waarsku dat hoewel die Wetsontwerp op Interregeringsmonitering, -ondersteuning en ingrypings (IMSI) daarop gemik is om volgehoue munisipale en provinsiale mislukkings die hoof te bied, dié nuwe wetsontwerp wat tans in die Nasionale Vergadering (NV) oorweeg word, die risiko loop om vorige foute te herhaal. Die burgerregteorganisasie stel daarom in sy amptelike kommentaar op die wetsontwerp voor dat betekenisvolle hervormings noodsaaklik is vir dié wetsontwerp om in sy doel te slaag.
Die IMSI-wetsontwerp het ten doel om die magte van nasionale en provinsiale regerings duideliker vas te stel in gevalle waar ingegryp moet word by munisipaliteite of provinsies wat nie hul grondwetlike of wetlike verpligtinge nakom nie. IMSI moet onder meer voorsiening maak vir:
- meer doeltreffende monitering van provinsies en munisipaliteite aangaande hul uitvoerende verpligtinge;
- die verskaffing van ondersteuning aan provinsies en munisipaliteite wat hulp benodig; en
- die plasing van ’n provinsie of munisipaliteit onder administrasie om dienslewering te herstel of finansiële standvastigheid te verseker indien nodig.
AfriForum benadruk in sy kommentaar wat Vrydag by die parlement ingedien is, dat die organisasie die doelwit vir die versterking van ingrypingsmeganismes, in gevalle waar munisipaliteite konsekwent versuim om hul grondwetlike verantwoordelikhede na te kom, steun. Die organisasie waarsku egter dat die voorgestelde uitgebreide ingrypingsmeganismes op sigself nie swak bestuur of dienslewering gaan regruk nie.
“Die ineenstorting van plaaslike regering oor die hele land heen het getoon dat ingrypings wat aanspreeklikheid probeer vryspring en strukturele hervorming verontagsaam, eenvoudig nie werk nie,” verduidelik Morné Mostert, bestuurder vir Plaaslikeregeringsake by AfriForum.
AfriForum beklemtoon voorts dat die wetsontwerp nie die strukturele oorsake van munisipaliteite se ineenstorting – soos vaardigheidstekorte, swak finansiële bestuur, politieke onbestendigheid en die afwesigheid van gevolgebestuur – voldoende die hoof bied nie. Sonder verpligte strukturele hervorming loop ingrypings volgens AfriForum die risiko om tydelike administratiewe oornames te word wat nie verdere verval voorkom nie, maar bloot vertraag.
Die burgerregteorganisasie kritiseer ook die afwesigheid van verpligte gemeenskapsbetrokkenheid by die ingrypingsproses in die wetsontwerp. IMSI benader ingryping as ’n saak wat slegs betrekking het op die verskillende vlakke van regering, ondanks die feit dat gemeenskappe die direkte gevolge van munisipale mislukkings moet verdra.
“Gemeenskapsdeelname is nie opsioneel nie,” verduidelik Mostert. “Ingrypings wat sonder oorlegpleging met inwoners geskied, ondermyn demokratiese beginsels sowel as die praktiese sukses van herstelpogings.”
Volgens AfriForum behoort bekwame burgerlike organisasies amptelik as vennote ter ondersteuning en uitvoering van ingrypings erken te word, eerder as om dié organisasies se betrokkenheid tot blote adviseurs te beperk en af te water. AfriForum het byvoorbeeld reeds telkens bewys dat dit doeltreffende steun aan gemeenskappe bied met die herstel en lewering van water en krag, vullisverwydering en ander basiese munisipale dienste in gevalle waar die regering versuim het om op te tree.
AfriForum teken in sy kommentaar op die IMSI-wetsontwerp ook beswaar aan teen die bepalings van die wetsontwerp wat voorsiening maak vir die verhaling van die koste van ingrypings van munisipaliteite. Dié bepaling plaas, volgens die burgerregteorganisasie, die finansiële las van mislukte regerings op inwoners en belastingbetalers. AfriForum doen daarbenewens ’n beroep op streng voorskrifte ten opsigte van deursigtigheid, openbare verslagdoening oor ingrypingsbegrotings en onafhanklike oudits na afloop van ingrypings.
“AfriForum bly steeds verbind tot konstruktiewe betrokkenheid by plaaslike regering en staan gereed om bystand te bied met die herstel van funksionele plaaslike regering op ’n manier wat gemeenskappe se grondwetlike regte en belange beskerm,” sluit Mostert af.



