| | |

Ernstige vrae ná Valke Madlanga-getuie in strafregtelike ondersoek bevorder

Klankgreep: Barry Bateman (Afrikaans)

Dit blyk dat die Valke nie ernstig is oor hul voorneme om korrupsie in hul eie geledere uit te wis nie aangesien die Valke se taktiese operasies hoof, brigadier Lesiba Mokoena, onlangs bevorder is. Mokoena het as getuie voor die Madlanga-kommissie van Ondersoek na Misdadigheid, Politieke Inmenging en Korrupsie in die Strafregstelsel gedien, hy word ook tans strafregtelik ondersoek en daar is ook vrae oor sy integriteit onder eed. Hy word daarvan beskuldig dat hy bedrieglike inskrywings op ’n register gemaak het om onwettig oortyd te eis. Dié beweerde optrede is 18 maande gelede deur ’n ondergeskikte aangemeld, ten spyte daarvan sê die Valke se teen korrupsie afdeling dat die ondersoek voortduur en dat verklarings steeds verkry moet word.

Die klaer, ’n adjudant-offisier, het AfriForum se privaatvervolgingseenheid in November verlede jaar genader ná die Valke-bestuur daarin gefaal het om die klag te ondersoek en daarop op te tree. Mokoena was ’n brigadier ten tyde van sy getuienis voor die Madlanga-kommissie in Oktober verlede jaar, ’n rang bo kolonel, wat sy rang was toe die klag teen hom in November 2024 aanhangig gemaak is.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê hierdie versuim om op te tree staan in starre kontras met hoe daar gewoonlik teen diegene wat selfs in die Madlanga-kommissie van ondersoek net genoem word. Nel meen dat hoewel die privaatvervolgingseenheid die aanstelling van kommissies van ondersoek wat polisie ondersoeke vervang kritiseer, het die eenheid opgemerk dat daar skielik ’n skynbare doeltreffenheid is in die  Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se ondersoeke na sekere kwessies.

In ’n skrywe aan die Valke het Nel onder meer gesê dat dit vreemd is dat ’n eenvoudige en ongekompliseerde bewering van wanvoorstelling met betrekking tot “oortyd” deur ’n senior amptenaar by die SAPD sedert 2024 daartoe gelei het dat daar heeltyd gesê word dat daar vordering in die ondersoek is hoewel dit nie blyk nader aan afgehandel te wees nie. Nel meen dat daar eenvoudig aanvaar moet word dat die Valke oor die nodige vaardighede beskik om sulke kwessies uit te sorteer.

Mokoena is by die Madlanga-kommissie daarvan beskuldig dat hy ’n wesenlike rol gespeel het in pogings van die Valke om die taakspan vir politieke moorde se in hegtenisneming van Katiso Molefe op 6 Desember 2024 te ontwrig. Die kommissie het hom gekritiseer dat hy te ontwykend en inkonsekwent was oor sy rol in die insident. Intussen, sedert die klagte van bedrog in November 2024 gelê is, het die Valke-bestuur aan die klaer gesê dat die saak steeds ondersoek word, dít het die klaer genoop om uiteindelik in Desember verlede jaar AfriForum se privaatvervolgingseenheid om hulp te nader.

Barry Bateman, woordvoerder vir AfriForum se privaatvervolgingseenheid, meen dat die Valke se optrede in die saak teen Mokoena ’n selektiewe ondersoek blootgelê het. “terwyl die Madlanga-kommissie openbare bewerings van ’n hernude toewyding tot verantwoordbaarheid binne die SAPD maak, is daar verwikkelinge agter die skerms wat daarop dui dat hierdie bloot ’n dekmantel is in reaksie op die vernedering van die openbarings wat byna daagliks vir die afgelope nege maande uitgesaai is. Wat die privaatvervolgingseenheid egter meer bekommer is die selektiewe wyse waarop wetstoepassers hul outoriteit uitoefen, en hoe dit blyk vir politieke gerieflikheidshalwe beïnvloed te word eerder as om ’n opregte toewyding om wanpraktyke binne eie geledere die hoof te bied.”

Die privaatvervolgingseenheid versoek dat die Valke betekenisvolle terugvoer op hul vrae oor die status van die ondersoek lewer en ’n verduideliking bied vir die onverklaarbare vertraging om hierdie saak af te handel.

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik