|

Landbou-ontwikkelingsvennootskap vier eerste oes

Die landbou-ontwikkelingsvenootskap tussen AfriForum, Saai en kgosatsana (prinses) Gaongalelwe Moiloa, medestigter van die Bahurutshe Ba Ga Moiloa-stigting, het ’n eerste oes gelewer ná die installering van ’n sonaangedrewe drupbesproeiingstelsel in 2025 op ’n gedeelte van die plaas Jagersfontein in die Mahikeng-omgewing. Altesaam 15 kratte groenrissies, 18 kratte tamaties en 29 kg groenboontjies is aan plaaslike inwoners, informele handelaars en gemeenskapsmarkte in die omgewing verkoop.

Kgosatsana (prinses) Gaongalelwe Moiloa (Engels)

“Dit gaan vir my nie net oor boerdery nie, maar ook oor waardigheid, selfstandigheid en hoop,” sê kgosatsana Moiloa. “Ek boer grootliks op my eie en ek is trots daarop dat ek ook my produkte self bemark. Hierdie is ’n droom wat gestalte vind en ook hoop skep vir ander vroue in my gemeenskap.”

Moiloa se deursettingsvermoë en bereidwilligheid om self ’n mark te kry vir haar produkte, getuig van selfrespek, trots en die wil om ’n blywende sukses in haar gemeenskap te maak.

Leon Lourens (Afrikaans)

“Hierdie projek wys wat moontlik is wanneer infrastruktuur, mentorskap en ’n droom bymekaarkom. Kommersialisering begin nie eers by groot meganisasie nie, maar by die eerste suksesvolle oes wat ’n mark vind. Dít is waar volhoubare groei begin,” sê Leon Lourens, ontwikkelingskoördineerder van Saai.

Volgens Nantes Kelder, nasionale projekkoördineerder vir Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum, gaan die waarde van die inisiatief veel verder as slegs landbou.

Nantes Kelder (Afrikaans)

“Wat hier gebeur is die suksesvolle resultaat van die Kultuurgemeenskappe-netwerk, wat besig is om op voetsoolvlak gestalte te kry en gegrond is op wedersydse erkenning en respek. Projekte soos hierdie vestig en versterk verhoudings op voetsoolvlak en dra by tot ’n toekoms waar verskillende kultuurgemeenskappe in vrede naas mekaar kan bestaan. Dít is die nalatenskap wat ons vir die kinders van die verskillende kultuurgemeenskappe hier aan die suidpunt van Afrika wil verseker. Wanneer gemeenskappe kies om saam te werk op landbougebied, dra ons dus nie net by tot voedselsekerheid en die verbetering van sosio-ekonomiese omstandighede nie. Dit is deel van AfriForum se toekomsplan wat voortbestaan hier moontlik maak,” sê Kelder.

AfriForum en Saai is by die projek betrokke deur hul landbou-ontwikkelingsinkubator, Resilient Regenerative Agricultural Initiative MSW (RRAIN).

“Hierdie oes is die volgende nederige tree van die langtermynreis onderweg na my doelwit om uiteindelik ’n volhoubare, winsgewende kommersiële landbou-onderneming te bedryf,” sluit Moiloa af.

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners