AfriForum eis deursigtigheid oor Tshwane-metro se besluit oor ontwikkeling by Groenkloof Rolbalklub
AfriForum doen ’n beroep op die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit om alle dokumentasie rakende die raadsbesluit oor die voorgestelde ontwikkeling van die Groenkloof Rolbalklub-terrein onverwyld aan die publiek beskikbaar te stel. Dié rolbalklub word tans ingevolge ’n 99-jaar huurkontrak aan die Pretoria Vriendekring verhuur.
Die ontwikkeling behels die voorgestelde langtermynverhuring van ’n gedeelte van die Groenkloof Rolbalklub-terrein aan ’n private ontwikkelaar. Volgens inligting wat tydens die openbare deelnameproses bekend gemaak is, kan die ontwikkeling onder meer ’n gemengde ontwikkeling insluit bestaande uit ’n winkelsentrum, kantoorruimte en tot ongeveer 1 800 residensiële eenhede. AfriForum is deur bekommerde inwoners genader.
Die voorgestelde ontwikkeling het reeds wydverspreide kommer onder inwoners, belastingbetalers en gemeenskapsorganisasies ontlok. Buiten die impak op infrastruktuur, dienslewering en selfs die verkeer in die area, is daar ook belangrike vrae oor die wyse waarop die besluit geneem is en of alle wetlike en administratiewe vereistes nagekom is.
“Wanneer ’n besluit geneem word wat ’n langtermyn invloed op ’n gemeenskap kan hê, is die publiek geregtig daarop om te weet op grond waarvan daardie besluit geneem is. Deursigtigheid en aanspreeklikheid is nie onderhandelbaar nie – dit is die grondslag van goeie plaaslike regering,” sê Llewellynn Hemmens, woordvoerder vir AfriForum in Pretoria.
AfriForum het ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) ingedien om toegang te verkry tot die volledige raadsverslag, alle ondersteunende dokumentasie, regsmenings, verkeers- en infrastruktuurstudies, omgewingsverslae, openbaredeelnameverslae, korrespondensie rakende die ontwikkeling, asook die amptelike stemrekord waarop die besluit gebaseer is.
Die organisasie doen terselfdertyd ’n beroep op alle politieke partye wat aan die stemming deelgeneem het om hul kiesers openlik rekenskap te gee van hul besluit. Openbare verteenwoordigers is aan die gemeenskappe wat hulle verkies het verantwoordbaar en behoort hul stemgedrag te kan motiveer, veral wanneer besluite geneem word wat ’n beduidende uitwerking op inwoners se lewensgehalte kan hê.
“Hierdie saak gaan oor veel meer as net een ontwikkeling. Dit gaan oor die beginsel dat elke besluit van ’n openbare instelling die toets van deursigtigheid, wettigheid en openbare aanspreeklikheid moet kan deurstaan. Gemeenskappe behoort nooit in die duister gelaat te word oor hoe of waarom besluite geneem is wat hul toekoms raak nie,” sê Hemmens.
Sodra die aangevraagde dokumentasie ontvang is, sal AfriForum dit deeglik ontleed om vas te stel of die metro aan alle toepaslike wetgewing en prosedures voldoen het, insluitend die vereistes vir openbare deelname, behoorlike administratiewe optrede en verantwoordelike ruimtelike beplanning.
Indien daar blyk dat die besluitnemingsproses prosedureel gebrekkig, onregmatig of teenstrydig met toepaslike wetgewing was, sal AfriForum alle beskikbare regsopsies oorweeg om die besluit te laat hersien.
AfriForum bly daartoe verbind om die belange van inwoners en belastingbetalers te beskerm, verantwoordbare plaaslike regering te bevorder en toe te sien dat munisipale besluite op ’n wettige, billike en deursigtige wyse geneem word.



