|

Marlise Kroukamp wil met The Created mense laat goed voel oor wie hulle is

Deur Chanté Kelder

Marlise Kroukamp

Marlise Kroukamp, eienaar van The Created en een van die top-10-finaliste in vanjaar se Entrepreneur van die Jaar-kompetisie, sê sy was nog altyd ’n entrepreneur in murg en been met ’n passie vir werkskepping. Dít is dan ook wat sy met The Created, haar juweliersonderneming, regkry.

“Ek besef dat talle talentvolle mense se omstandighede hul geleenthede kan beperk, en ek wil minder bevoorregte mense aanstel, oplei en help om hul potensiaal te bereik,” sê Marlise.

Die idee vir ’n juweliersonderneming het in 2020 gedurende die COVID-19-inperking in haar kop begin nesskop terwyl sy vir die pret handgemaakte juweliersware begin maak het. Hoewel die aanvraag vir handgemaakte juweliersware daar was, was dit nie skaalbaar nie en sy het vir eers dié idee laat gaan.

Gedurende haar drie jaar as rekeningkundige klerk het sy egter begin om die potensiaal van e-handel raak te sien en sy het met verskillende idees begin rondspeel.

In April 2022 het haar gedagtes weer na juweliersware begin beweeg, maar hierdie keer met ’n skaalbare plan.

“Ek wou ’n klaarvervaardigde, betroubare produk lewer met ’n spesifieke samestelling en konsekwente gehalte wat deur betroubare verskaffers voorsien word.”

“Só het The Created to begin met ’n boks voorraad in my Honda Jazz se kattebak, ’n mosterdsaadjie geloof en ’n idee wat net mal genoeg was om te werk.”

Van al Marlise se e-handel-idees is hierdie idee die een wat sy geweet het kan werk.

The Created is ’n aanlyn juweliershandelsmerk wat juweliersware van vlekvryestaal met ’n egte goudlaag teen bekostigbare pryse verkoop.

“Ons produk is geskik om te dra terwyl jy swem, stort en slaap sonder om te verkleur. Ons verkoop direk aanlyn aan kliënte oor Suid-Afrika heen, in persoon aan kleinhandelaars en korporatiewe kliënte, en deur OneDayOnly. Ons hou voorraad plaaslik in Stellenbosch, waar ons aanlyn bestellings self verpak en binne 24 tot 48 uur versend.”

Dit is vir Marlise belangrik dat die mense agter die onderneming sigbaar moet wees vir kliënte.

“Mense is moeg vir oorgepoleerde inhoud; hulle koop by mense, nie net ondernemings nie. Mens moet die ‘vierde muur’ van sosiale media breek en mense deel van jou onderneming laat voel. Daarom wys ons ons gesigte en bou ons verhoudings deur sosiale media, vennootskappe en borgskappe.”

Marlise meen voorts dat ’n onderneming daaruit baat om in hul mense te belê en potensiaal te ontwikkel.

“Ons digitale bemarkingsbestuurder het as ’n verpakker by ons begin. Ons het haar potensiaal raakgesien en daarin belê deur vir haar opleiding te betaal en só kon sy in haar rol groei en ons bemarking intern bestuur. Ek kyk nie net na mense se bestaande vaardighede nie, maar ook na hul potensiaal om te ontwikkel. Dit het my ook geleer om verantwoordelikhede te deel en my eie rol meer op strategie en groei te rig.”

By The Created is van hul kernwaardes om mense eerste te stel, met integriteit op te tree en vorentoe te dink.

“As ’n onderneming wat deur Christene bestuur word, wil ons hê dat ons geloof sigbaar moet wees in hoe ons mense behandel en besluite neem.”

Hierdie besluite sluit in hoe daar met tegnologiese innovasie omgegaan word in die onderneming.

“Ek sien innovasie as ’n hulpmiddel wat verantwoordelik gebruik moet word. Die beste voorbeeld hiervan is die gebruik van kunsmatige intelligensie (KI). Ons gebruik dit vir herhalende take soos verslagdoening, rekonsiliasies en voorraadbeplanning, maar integriteit bly ononderhandelbaar. Ons skep nie KI-produkfoto’s wat die die werklike produk verkeerd voorstel nie. Ons werk steeds met professionele fotograwe en videograwe om ons produkte eerlik en akkuraat voor te stel.”

Marlise glo dat KI ingespan moet word om mense van roetinewerk te bevry sodat hulle meer tyd kan spandeer aan kreatiwiteit, goeie besluitneming en verhoudings.

Op die einde van die dag hoop Marlise dat mense The Created sal onthou as ’n handelsmerk wat hulle goed laat voel het oor wie hulle is en nie net oor hulle lyk nie.

“Ons naam herinner ons daaraan dat elke mens met ’n doel geskape is.”

“En persoonlik wil ek onthou word as iemand wat werk geskep het, mense laat groei het en ander gehelp het om hul eie onderneming te kan begin. As iemand eendag kan sê dat hulle begin het omdat iemand vir hulle gewys het dit is moontlik, sal ek tevrede wees.”

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners