Bloemhof-tak se nuwe trekker
| | |

AfriForum-tak in Bloemhof koop nuwe trekker aan om dorp op te knap

Die AfriForum-tak in Bloemhof het op 25 Maart ’n nuwe trekker aangekoop nadat daar verskeie geleenthede geïdentifiseer is, wat met ’n trekker aangepak kan word om die dorp te verbeter. Die tak het ook verskeie klagtes uit die gemeenskap ontvang oor die toestand van oop velde, parkies en leë erwe – ’n trekker sal dié taak heelwat vergemaklik.  Die tak het ook besluit om die trekker te gebruik om ’n bekostigbare vullisverwyderingsdiens aan die dorp beskikbaar te stel.

Tuinvullis wat op die sypaadjies ophoop, is ’n ernstige probleem vir Bloemhof-inwoners, daarom het die AfriForum-tak nou die trekker ingespan om die gemeenskap se tuinvullis teen ’n fooi te verwyder.  Hierdie diens dra daartoe by dat die tak meer volhoubaar projekte in die dorp kan aanpak. Die tak het reeds ’n sleepwa wat gebruik sal word om die tuinvullis op te laai, asook ’n kapmes om van lang gras in parke ontslae te raak.

“Die AfriForum-tak in Bloemhof is hard aan die werk om die dorp skoon en netjies te maak en dit so te hou. Die aankoop van die trekker is ’n groot stap vorentoe om ’n diens aan die gemeenskap te lewer en stel die tak ook in staat om met vullisverwydering in te spring, sou die munisipaliteit nie meer hul verantwoordlikhede nakom nie.  Die trekker bring die tak ’n stap nader aan volhoubaarheid deur ’n diens te verskaf wat hom kan befonds en terselfdertyd ’n geleentheid gee om nuwe projekte aan te pak,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland.

AfriForum se Bloemhof-tak het alreeds 10 asblikke in die dorp opgerig en beplan om nóg 10 op te rig om die dorp skoon en netjies te hou.

Raak vandag nog by AfriForum se strukture betrokke. Jy kan help om jóú omgewing te beveilig: Klik hier vir meer inligting.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf