AfriForum pak verwaarloosde gebiede in Keimoes ná geen munisipale ingryping
AfriForum se Keimoes-tak het gedurende Augustus voortgegaan om openbare ruimtes in Keimoes skoon te maak nadat talle inwoners hul kommer oor die haglike toestand van die gebiede uitgespreek het. Die Kai !Garib Plaaslike Munisipaliteit is veronderstel om openbare parke, sypaadjies en strate te onderhou, maar versuim gereeld sy pligte.
Dele van die pad en sypaadjie op Hoofweg, vanaf die gebied voor Brays Spar tot regoor die munisipale geboue, was toegegroei onder gras en onkruid. Die bome was nie gesnoei nie, wat beteken het dat lae takke dit moeilik gemaak het vir voetgangers om van die sypaadjie gebruik te maak. Vullis en ander rommel was ook oral in die gebied gestrooi.
Die AfriForum-buurtspan op Keimoes ontvang gereeld klagtes van inwoners oor die toestand van hierdie gebiede. Die gebrek aan gereelde ingryping deur die munisipaliteit plaas ’n onnodige las op inwoners en plaaslike gemeenskapsorganisasies.
Die buurtspan het tydens die aksie die bome gesnoei, gras gesny en die gebied deeglik skoongemaak. Meer as twee vragte, oftewel 2 ton, se takke, gras en rommel is verwyder. Die span het ook onder die bome langs Hoërskool Keimoes skoongemaak, waar ’n verdere 1 ton rommel verwyder is.
“Dit is hartseer dat gemeenskapslede telkens self moet inspring om basiese instandhouding en skoonmaakwerk te doen wat normaalweg die verantwoordelikheid van die plaaslike munisipaliteit behoort te wees,” sê Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Noord-Kaap.
Volgens Strauss het Kobus Pool en Hendrik Andreas, wat deel is van die buurtspan, hul uitstekend van hul taak gekwyt. “Ons is trots op die bydrae wat hulle tot ons gemeenskap lewer want projekte soos dié handel nie bloot oor die opruim van rommel nie, maar oor inwoners se veiligheid, waardigheid en trots wat in hul gemeenskappe bevorder word.”
AfriForum se Keimoes-tak sal voortgaan om die toestand van openbare ruimtes in die dorp dop te hou en waar nodig druk op die munisipaliteit te plaas om sy verantwoordelikhede teenoor inwoners na te kom.
Raak vandag nog betrokke by AfriForum om ’n verskil in jou dorp te maak. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.



