| | |

AfriForum speel belangrike rol tydens gure weersomstandighede in Matzikama

AfriForum se buurtwagte in die Matzikama-omgewing, wat deel vorm van die Vredendal-tak,  het op 11 Mei sonder huiwering ingegryp toe die Olifantsrivier se watervlakke weens die stormweer begin styg het. Buurtwaglede het vinnig as ’n geïntegreerde span saamgespan om inwoners uit laagliggende gebiede langs die rivier te ontruim.

Die Olifantsrivier is vir dekades ’n lewensaar vir landbou langs sy oewers, maar op hierdie dag het buitengewone waterstygings vinnig in ’n bedreiging ontaard. Watervlakke het gevaarlik gestyg en oor paaie begin vloei, wat onmiddellike veiligheidsoptrede genoodsaak het.

AfriForum se buurtwagte het kritieke paaie afgesluit om motoriste en swaar verkeer teen die gevaar te beskerm en het herhaaldelik waarskuwings uitgereik om sekere roetes te vermy. Ten spyte hiervan het sommige bestuurders die risiko onderskat. ’n Tenkvragmotor is kort daarna deur vloedwater uit ’n normaalweg droë rivierloop meegesleur. Die twee insittendes van die vragmotor is gered en na veiligheid gebring.

Intussen is die Matzikama Plaaslike Munisipaliteit se rampbestuur-afdeling se hulp ook ontbied. Samewerking in noodgevalle is van kardinale belang en goeie verhoudinge met die plaaslike regering is tot almal se voordeel. Ten spyte hiervan het die AfriForum-buurtwagte en -plaaswagte onverpoos voortgewerk, ongeag daarvan dat heelwat lede se eie plase en lande begin oorstroom het.

Dae later het die Olifantsrivier se watervlakke steeds gestyg. Plaasgemeenskappe tussen Klawer en Vredendal, asook die groter Vredendal-gemeenskap, is tydelik van die buitewêreld geïsoleer weens die vloedwaters.  Die plaaswag het logistieke planne in werking gestel om noodvoorrade, waaronder drinkwater en basiese voedselprodukte, by gestrande inwoners uit te kry, terwyl plaasimplemente gebruik is om vloedwater te herlei en verdere skade aan infrastruktuur te beperk.

Teen Vrydag 15 Mei het toestande begin stabiliseer. Geen sterftes is aangemeld nie, wat ’n merkwaardige prestasie is gegewe die omvang van die ramp. Die skade aan landbougrond en infrastruktuur is egter omvangryk. Die drie hoofroetes, wat toegang tot Vredendal bied, is ook gesluit nadat brûe weggespoel of ernstig beskadig is en in sommige gevalle slegs vir voetgangers oopgestel kon word.

Volgens Eric van Zyl, voorsitter van AfriForum se Vredendal-tak, het hierdie ramp duidelik bewys hoe kardinaal doelgerigte opleiding en gereelde inoefening van gebeurlikheidsplanne vir enige gemeenskap is. Wanneer vooruit beplan word en elke rolspeler sy verantwoordelikheid ken, kan gemeenskappe doeltreffend optree en sodoende lewens red.

Die gebeure in die Matzikama-omgewing dien as ’n kragtige voorbeeld van gemeenskapsamewerking, selforganisasie en volharding tydens ’n tyd van ernstige nood.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf, Veiligheid