| | | |

Bethal-tak en Teks-buurtspan maak ’n verskil gedurende Februarie

AfriForum se Bethal-tak en Trichardt-Evander-Kinross-Secunda-buurtspan (oftewel die Teks-buurtspan), het in Februarie gewys dat hulle nie skrik vir harde werk nie. Dié spanne het onderskeidelik in hul omgewings gras gesny, slaggate gevul en vullis verwyder.

AfriForum het weer ingegryp tydens die onlangse wateronderbrekings in Bethal en gehelp om meer as 260 000 liter water te verskaf of te versprei aan die gemeenskap. Die boere in die omgewing het in hierdie tyd, soos vorige kere, gesorg dat AfriForum se noodwaterpunte vol is en die tehuise en skole in die dorp toegang tot skoon water kon hê. Die boere bied hul hulp gratis aan en AfriForum koördineer die aflewerings sodat daar doeltreffend na almal omgesien kan word.

In hierdie tyd het AfriForum RandWater ook voor die Pretoriase Hooggeregshof gedaag om inligting te bekom oor die waterkrisis, uitspraak is voorbehou. Die organisasie het ook ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) ingedien om die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit te dwing om inligting oor die waterleweringsooreenkoms asook die skuldbetalingsooreenkoms tussen die munisipaliteit en RandWater met die organisasie te deel.

“AfriForum pak verskeie aksies aan om hierdie krisis op te los. Ons glo nie in goedkoop politieke oplossings nie. Die inwoners van die Govan Mbeki-munisipaliteit verdien skoon, lopende water en ons sal aanhou veg daarvoor,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld.

Die tak het 190 sakkies teer gebruik om slaggate in Malherbe-straat te herstel. Volgens Bekker is hierdie straat een van die hoofpaaie deur die dorp en honderde mense gebruik dié straat daagliks om kinders na Hoërskool Hoogenhout te vervoer. ’n Tweede fase van hierdie aksie sal eersdaags afskop.

Die Bethal-tak het ook saam met Hoërskool Hoogenhout gespan om slaggate in Wichtstraat te herstel. Die hoërskool het die teer verskaf en die AfriForum-span het die slaggate herstel. Daar is ook herstelwerk aan teerpaaie binne die skoolterrein verrig sodat dit weer mooi kon lyk voor ’n groot atletiekbyeenkoms daar plaasgevind het. Die tak het 230 sakkies teer gebruik om hierdie aksie suksesvol te voltooi.

Die BCVO-skool (Beweging vir Christelike Volkseie Onderwys) het ook die tak genader om 3.5 hektaar gras te sny op dié skool se sportgronde. Hierdie gronde was voorheen ongebruik, maar die skool beplan om dit weer te benut. Daar het reeds na afloop van die grassny-aksie grondverskuiwingswerk plaasgevind.

Die tak het ook die ingang teen die Bethal/Kriel R545-roete weer skoongemaak. Hierdie taak word reeds vir die afgelope 13 maande deur AfriForum se Bethal-tak behartig.

AfriForum is ook besig om die Govan Mbeki-munisipaliteit die stryd aan te sê ná dié munisipaliteit ’n verhoging van meer as 12% op elektrisiteit aangekondig het terwyl Eskom dreig om die dorp se krag af te sny.

Bekker meen dat inwoners reeds hul rekeninge betaal, maar dat hulle nou nog meer moet opdok sonder om te weet of daardie geld wel aan die diensverskaffers betaal gaan word.

Die Teks-buurtspan het op sy beurt 3.6 hektaar gras gedurende Februarie gesny. Daar is veral gefokus op groenstroke en om areas wat langs paaie loop netjies te maak. Daar is onder meer in O.R. Thambo-straat gewerskaf en in die omgewing van Laerskool Secunda.

Die groenstroke tussen Vaalrivier- en Munchenstraat, sowel as Vaalrivier- en Rietspruitstraat is ook netjies kortgesny en skoongemaak. Hierdie aksie is saam met inwoners in die omgewing aangepak.

Voorts het die Teks-tak ook saam met die Groenstrook Gabbas en die Secunda Steamers gewerk om die Eendedampark skoon te maak.

Die tak en buurtspan het meer as 19 bakkie- en sleepwa-vragte vol gras en vullis tydens hierdie projekte verwyder.

“Dit is belangrik vir ons om groenstroke en gras langs hoofroetes netjies te hou aangesien lang gras ’n veiligheidsrisiko vir voetgangers is weens die wegkruipplek wat dit vir misdadigers kan bied. Voetgangers is ongelukkig maklike teikens vir hierdie misdadigers wat lang gras en bebosde areas tot hul voordeel gebruik,” sê Jan du Plessis, voorsitter van AfriForum se Teks-tak.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf