AfriForum doen beroep op publiek om hidrobreking te beveg vóór uurglas finaal leegloop
AfriForum waarsku dat indien die regering die groen lig vir hidrobreking gee, gemeenskappe die prys daarvoor gaan betaal. Die burgerregteorganisasie moedig daarom die publiek aan om die opheffing van ’n moratorium op hidrobreking te beveg weens die ernstige risiko’s wat dié praktyk vir die land se reeds skaars waterbronne inhou.
Die beroep volg in reaksie op die voorgestelde regulasies wat die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing in November verlede jaar gepubliseer het. Indien dié konsepregulasies aanvaar word, sal dit die moratorium wat – ná openbare druk – oorspronklik in 2011 op hidrobreking ingestel is, en ná ’n kortstondige opheffing daarvan in 2012 weer in 2014 ingestel is, finaal tot niet maak. Die publiek het tot 13 Februarie kans om kommentaar op die regulasies in te dien en hidrobreking te verhoed.
AfriForum waarsku dat hidrobreking, ’n metode waardeur aardgas ontgin word, ’n onaanvaarbare risiko inhou vir ’n land wat reeds uiters waterskaars is en boonop tans volgens die World Resources Institute (WRI) se wêreldranglys van waterstres in die 22ste plek geplaas is. Dié ranglys dui aan tot watter mate lande waterskaarste en druk op waterhulpbronne ondervind. Suid-Afrika se waterstres stem so te sê ooreen met Namibië (in die 21ste plek) en Irak (in die 23ste plek) – albei woestyn- of halfwoestynagtige lande.
Hidrobreking is ’n proses waardeur chemiese vloeistowwe teen geweldige hoë druk in skalierotslae ingepomp word om die rots te breek en sodoende metaangas wat daarin vervat is, vry te stel en te onttrek. Die proses vereis geweldige hoeveelhede water en hou die gevaar in om ernstige grondwater- en oppervlakwaterbesoedeling tot gevolg te hê.
Besoedeling van waterbronne rig dikwels onomkeerbare skade aan, wat gemeenskappe, landbou en die omgewing direk beïnvloed
Volgens AfriForum maak die regering oordrewe beloftes en voer aan dat hidrobreking tot noemenswaardige ekonomiese groei en werkskepping sal lei. Die burgerregteorganisasie hou egter vol dat die negatiewe gevolge van waterverlies en -besoedeling veel swaarder weeg as die potensiële ekonomiese voordele. Boonop veronderstel die konsepregulasies dat die regering die vermoë het om veilige en verantwoordelike hidrobreking te verseker – ’n veronderstelling wat uit die herhaaldelike mislukkings in die mynbou- en nywerheidsektore ’n onrealisties blyk te wees.
“Besluite wat nou geneem word, sal bepaal of Suid-Afrika sy skaars waterbronne beskerm of dit aan permanente skade blootstel,” sê Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake. “Hidrobreking word bemark as ’n kitsoplossing om ekonomiese groei te bevorder, maar wanneer wetstoepassing misluk, is dit gemeenskappe wat hul toegang tot water, lewensbestaan en voedselsekerheid gaan verloor. Wanneer dit gebeur, gaan die regering of privaat maatskappye nie tot hul redding kom nie.”
Neem vandag nog standpunt in teen hidrobreking
AfriForum doen ’n beroep op die publiek om op die volgende maniere standpunt in te neem teen hidrobreking:
- Onderteken AfriForum se petisie teen die goedkeuring van die regulasies voor 13 Februarie hier.
- Wees ingelig en klik hier vir AfriForum se nuwe kortvideo oor die gevare van hidrobreking.
- Dien voor die sperdatum (13 Februarie) skriftelike kommentaar in oor die voorgestelde regulasies. Rig kommentaar per e-pos aan smoganetsi@dffe.gov.za.



