AfriForum se Upington-tak en rolspelers knap treinbrug op
AfriForum se Upington-tak het op 16 Junie saam met verskeie gemeenskapsrolspelers ’n suksesvolle skoonmaakprojek by die bekende treinbrug in Upington aangepak. Dit het drie dae geneem om net een kant van die brug te takel. Die doel van die projek was om die gebied veiliger, netjieser en meer sigbaar vir inwoners en besoekers te maak.
Hierdie projek is moontlik gemaak danksy die waardevolle samewerking van plaaslike ondernemings en gemeenskapslede wat hul tyd, kundigheid en hulpbronne beskikbaar gestel het. Walker’s Midas Upington het drie groot afvalhouers geskenk om die verwydering van rommel te vergemaklik, terwyl Sakkie Spannenberg toerusting beskikbaar gestel het om die omvangryke werk te ondersteun.
Met behulp van drie kettingsae is bome en palmbome wat sigbaarheid en veiligheid belemmer het, gesnoei en verwyder. Daarbenewens is plantegroei wat teen en op die treinbrug se mure gegroei het, oopgesny en verwyder om die struktuur weer duidelik sigbaar te maak en verdere skade te help voorkom.
Tydens die skoonmaakprojek is sowat twee ton bourommel, huishoudelike afval en tuinvullis uit die gebied verwyder. Die afval is in die houers gelaai, waarna Walker’s Midas Upington dit na die stortingsterrein vervoer het.
“Hierdie projek bewys wat bereik kan word wanneer gemeenskapslede en plaaslike ondernemings saamwerk om hul omgewing te verbeter. Die treinbrug is ’n bekende landmerk in Upington en ons is trots daarop dat die gebied nou aansienlik netjieser, veiliger en meer toeganklik is,” sê Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Kalahari.
AfriForum bedank Walker’s Midas Upington, Sakkie Spannenberg en elke vrywilliger wat ’n bydrae gelewer het om die projek suksesvol af te handel. Sulke samewerking is ’n bewys van die gemeenskap se verbintenis tot die behoud en verbetering van Upington se openbare ruimtes.





