AfriForum se hofaansoek oor Jhb-waterheffing môre aangehoor
AfriForum se dringende hofaansoek om die Johannesburg Metropolitaanse Munisipaliteit se omstrede verhoging van 65,6% in die wateraanvraagbestuursheffing te hersien en tersyde te stel, sal na verwagting môre (23 Junie) in die Hooggeregshof in Johannesburg aangehoor word.
AfriForum het die hof op ’n dringende grondslag genader omdat die metro se nuwe begroting, insluitend hierdie reuse-verhoging, op 1 Julie in werking sal tree. Volgens AfriForum sal inwoners wesenlik benadeel word en voorkombare praktiese probleme geskep word indien die verhoogde heffing in werking tree voordat die wettigheid daarvan getoets is.
“Litigasie was nooit AfriForum se eerste keuse nie. Ons het herhaaldelik inligting aangevra en betekenisvolle insae van die metro versoek in ’n poging om ons bekommernisse uit te stryk. Die metro het egter geweier om op enige betekenisvolle manier met ons te skakel, wat ons met geen ander alternatief gelaat het as om die howe te nader nie,” sê Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake.
AfriForum versoek die hof om die nuwe heffing tersyde te stel op grond daarvan dat dit onwettig is en dat die metro nie sy wetlike verpligtinge tydens die begrotingsproses nagekom het nie.
“Ons is hoopvol dat die hof die verlangde verligting sal toestaan en die beginsels van deursigtigheid, verantwoordbaarheid en regmatige besluitneming sal herbevestig. Daar kan nie bloot van inwoners verwag word om ’n aansienlike nuwe heffing te aanvaar sonder dat die metro verduidelik hoe dit bereken is of waarom dit geregverdig is nie,” sê De Vaal.
AfriForum verwag dat die metro die aansoek sal teenstaan deur aan te voer dat die saak nie dringend is nie en dat die heffing wettig en geregverdig is. Dit is kwessies wat AfriForum glo behoorlik deur die hof bepaal moet word.
Die organisasie sal ’n verdere opdatering verskaf sodra die saak aangehoor is.



