Beskerming van eiendom seëvier ná privaatvervolgingseenheid ingryp
Deur Megan Swart
Alte dikwels word gewone landsburgers van geregtigheid ontneem omdat polisiebeamptes en aanklaers sake van die hand wys wat hulle nie as ’n kriminele oortreding beskou nie. Dit is ondanks die feit dat daar in meeste van dié gevalle voldoende inhoud is om die teendeel te bewys. AfriForum se privaatvervolgingseenheid het egter in sy jongste saak bewys hoe belangrik dit is om die oppergesag van die reg te handhaaf, ongeag hoe gering die oortreding deur individue of selfs die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) beskou word. In dié saak het die eenheid help toesien dat die beskerming van privaat eiendom seëvier – ’n beginsel wat as een van die hoekstene van demokrasie geag word.
Die privaatvervolgingseenheid se ingryping by ’n kriminele saak, wat deur aanklaers afgemaak is as ’n siviele eis, het tot die skuldigbevinding van ’n man gelei wat die reg in sy eie hande geneem het. Johan Fourie het in September 2022 sy buurvrou Antoinette Maake se boom op haar eiendom afgekap ná ’n jarelange geskil oor dié boom.

Fourie het in 2019 aangevoer dat Maake se boom skade aan sy heining veroorsaak en hom verhinder het om ’n betonmuur op te rig. Maake het op haar beurt gesê dat sy nie die boom sou laat verwyder nie, maar aan Fourie toestemming gegee om die takke wat oor die grens van sy eiendom hang, versigtig te snoei.
’n Jarelange geskil het daartoe gelei dat Fourie in 2022, terwyl Maake uitstedig was, onregmatig toegang tot haar eiendom verkry en die boom afgesaag het. In die proses is daar oormatige skade aan Maake se tuin aangerig. Dié voorval is op kringtelevisie vasgevang.
Die NVG het in November 2022 geweier om die saak te vervolg en dit as ’n siviele aangeleentheid bestempel. Ná die privaatvervolgingseenheid se vertoë aan die Wes-Kaapse direkteur van Openbare Vervolgings is die saak uiteindelik in Februarie 2024 op die hofrol geplaas.
Die Caledon Landdroshof het Fourie in Mei vanjaar skuldig bevind aan opsetlike saakbeskadiging en ’n vonnis van R3 000 of drie maande gevangenisstraf, opgeskort vir vyf jaar, opgelê.
Die skuldigbevinding sou hoogs onwaarskynlik gewees het sonder die privaatvervolgingseenheid se aandrang dat alle sake waarin daar bewyse is dat ’n kriminele oortreding gepleeg is, vervolg moet word.
“Die publiek kan nie toegelaat word om die reg in eie hande te neem nie en daar moet gevolge vir sulke optrede wees. Dit is juis omdat die staat sake soos hierdie van die hand wys dat die publiek vertroue in die strafregstelsel verloor én die strafregstelsel feitlik ineengestort het,” sê Barry Bateman, woordvoerder van AfriForum se privaatvervolgingseenheid.



