Ons vir jou verleng speelvak tot Junie ná groot aanvraag
Ná ’n besonder suksesvolle openingsweek en ’n groot vraag na meer vertonings van Ons vir jou, is die speelvak van dié ikoniese musiekspel nou amptelik tot 21 Junie by AfriForum Teater verleng. As deel van die verlenging is daar boonop twee ekstra vertonings op 16 Junie (Jeugdag) bygevoeg.
Die produksie, wat oorspronklik slegs tot einde Mei sou speel, het sedert die openingsaand op 29 April sterk aanklank by gehore gevind, met verskeie vertonings wat reeds uitverkoop is. Die speeltyd is verleng om meer gehore die geleentheid te gee om die produksie te beleef.
Ons vir jou, die Tweede Vryheidsoorlog-musiekspel uit die pen van Deon Opperman en Sean Else, met musiek deur Johan Vorster, vertel ’n aangrypende verhaal van oorlog, opoffering, liefde en menswaardigheid. Sedert sy oorspronklike debuut het die produksie ’n blywende indruk op Suid-Afrikaanse gehore gemaak, en die huidige weergawe bring dié verhaal opnuut na die verhoog vir ’n nuwe generasie teatergangers.


Volgens Marné Jooste, AfriForum Teater se bemarking-en-kommunikasiebeampte, is die reaksie op die produksie besonder bemoedigend. “Die reaksie van gehore bevestig weer hoe diep Ons vir jou mense raak. Dit is vir ons ’n voorreg om hierdie verhaal langer met gehore te kan deel en om te sien hoe mense hulself en hul geskiedenis daarin herken.”
Die produksie word aangebied met ’n grootskaalse stelontwerp deur Wilhelm Disbergen en ’n rolverdeling gelei deur Bok van Blerk, saam met ’n ensemble van verskeie bekende teaterkunstenaars onder meer Nadia Beukes, Zöricke Snyman en vele meer.
Kaartjies vir die verlengde speeltyd is reeds hier beskikbaar.



