| | |

AfriForum se Pretoria-buurtspanne snoer kragte saam om Witkruismonument mooi te maak

AfriForum se Moot- en Pretoria-Oos-buurtspanne het op 28 en 29 Augustus die Witkruismonument tussen Potgietersrus en Pietersburg skoongemaak en opgeknap ter voorbereiding van die jaarlikse kruisplanting wat op 19 September plaasvind.  

Rolspelers verbonde aan die Witkruismonument het die reuseverskil gesien wat AfriForum se buurtspanne in Pretoria maak en het daarom die organisasie gekontak om te help met die skoonmaak en opknapping van die terrein. AfriForum se buurtspanne het reeds talle suksesse behaal met slaggatherstelwerk, opknapping van parkies en groenstroke en om talle ander munisipale funksies te verrig.

AfriForum het ’n gedugte span onder leiding van Andries Opperman, die bestuurder van AfriForum se Moot- en Pretoria-Oos-buurtspanne, vanaf Pretoria gestuur om saam met AfriForum se Pietersburg-tak, die Vryheidsfront Plus (VF+) en verskeie ander rolspelers hierdie grootskaalse taak aan te pak.

Die gras tussen en rondom die sowat 3 000 kruise is gesny, kruise wat omgeval het is opgetel en reg geplant en die spanne het ook algemene opknappingswerk gedoen en skoongemaak.

Die Witkruismonument beeld die werklikheid van plaasmoorde in Suid-Afrika uit en gedenk die slagoffers van hierdie grusame misdaad. Die monument bestaan uit nagenoeg 3 000 kruise wat slagoffers van plaasmoorde verteenwoordig en dien as ’n kragtige herinnering aan die lewens wat deur hierdie geweld geraak en vernietig is.

“Dit is nou belangriker as ooit dat gemeenskappe self betrokke raak om kwessies wat ons erfenis bedreig die stryd aan te sê. Die verantwoordelikheid vir die bewaring van ons monumente vir ons kinders lê eerstens by ons. Verder is dit ook belangrik dat ons verseker dat die waarheid oor ons geskiedenis die buitewêreld bereik,” sê Maree van den Berg, woordvoerder van AfriForum.

Hierdie aksie is nie bloot ’n skoonmaakaksie nie, maar is ’n duidelike aanduiding van selfstandige gemeenskappe wat die bewaring van hul erfenis in hulle eie hande neem.

“AfriForum wil met sy takstrukture en buurtspanne help om ’n verskil in gemeenskappe te maak en te wys dat ons nie op ons louere rus en wag vir iemand anders om iets te doen nie. Die rolspelers by die Witkruismonument het gebruik gemaak van hierdie gewilligheid en saam kon ons moue oprol en ’n reuseverskil maak in ’n kort tydjie,” sluit Van den Berg af.

Gemeenskappe wat uitdagings in hul omgewing wil aanpak, kan www.buurtspanne.co.za besoek om AfriForum se buurtspanne te bespreek.

Word n lid

Maak n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf