| |

AfriForum stel Werner Human as adjunk-uitvoerende hoof aan

Video: Kallie Kriel (Afrikaans)
Video: Werner Human (Afrikaans)
Klankgreep: Kallie Kriel (Afrikaans)
Klankgreep: Werner Human (Afrikaans)

AfriForum het Werner Human pas aangestel as adjunk-uitvoerende hoof van dié organisasie. Human was tot en met sy aanstelling by AfriForum die operasionele hoof van die Solidariteit Beweging Trust. Vanuit sy posisie by die Solidariteit Beweging Trust was sy verantwoordelikheid om op strategiese vlak met al die instellings van dié Beweging saam te werk om die uitvoering van die Beweging se oorhoofse strategie te koördineer.  

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het Human se aanstelling voortgevloei uit AfriForum se besluit om sy leierskapstruktuur verder te versterk met die aanstelling van roepingsgedrewe jong leiers met ’n bewese suksesrekord. Kriel het daarop gewys dat AfriForum sy leierskapstruktuur ook moes uitbrei om te voldoen aan die groeiende verwagtinge onder die publiek dat AfriForum nog meer moet doen om gemeenskapselfstandigheid te bevorder as buffer teen groeiende staatsverval.

“Werner Human sal aan die hoof staan om AfriForum se uitvoerende vermoë verder uit te brei deur strategies gedrewe interne organisasiebestuur en sal ook aan die hoof van AfriForum se oorhoofse regstrategie staan. Werner het reeds uitgebreide ervaring van AfriForum se regstrategie, aangesien hy tussen 2012 en 2018 AfriForum se prokureur was in tientalle hofsake om die regering tot verantwoording te roep, asook sake ter beskerming van Afrikaanse skole. Hy sal ook saam met die res van AfriForum se senior bestuur in dié organisasie ’n wesenlike rol speel om die organisasie se toekomsstrategie verder te verfyn en te help uitvoer,” sê Kriel.

Volgens Human sien hy daarna uit om aktief as deel van AfriForum ’n beter hede en toekoms te help bou. “Ek is dankbaar om deel te word van ’n organisasie wat ‘n unieke rol speel om praktiese selfstandigheid vir die Afrikaner-gemeenskap en Afrikaanssprekendes te bevorder, goeie verhoudings en samewerking met ander kultuurgemeenskappe en rolspelers binne die samelewing te help bewerkstellig, en om die regering op verskeie wyses aanspreeklik te hou,” sê Human.

Volgens Human is dit danksy getroue AfriForum-lede dat AfriForum in 20 jaar die grootste burgerlike organisasie in die land geword het, wat elke dag ’n tasbare verskil in hulle gemeenskappe maak en is hy opgewonde om saam met AfriForum se lede die pad verder te stap.

Human se bande met AfriForum strek terug tot 2012, toe hy as prokureur by Hurter Spies Ingelyf aangesluit het – die regsfirma wat sedertdien as AfriForum se regsverteenwoordigers optree. As deel van daardie regspan het hy ’n sentrale rol gespeel in talle baanbrekersake oor kultuur, taal, munisipale verval, onderwys en die aanspreeklikheid van staatsamptenare. Hierdie werk het nie net AfriForum se openbare belang-litigasie versterk nie, maar ook ander organisasies geïnspireer om dieselfde roete te volg.

In 2018 is Human by Solidariteit aangestel en kort daarna by die Solidariteit Beweging Trust as operasionele hoof. Die instellings waarmee hy nou moes saamwerk in dié pos sluit in AfriForum, Solidariteit, Solidariteit Helpende Hand,  Akademia, Sol-Tech, die FAK, Maroela Media, die Skoleondersteuningsentrum (SOS), en verskeie ander instellings.

Word n lid

Maak n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf, Ons is Afrikaners