Upington-gemeenskap vra vir spoedhobbels om historiese treinbrug te beveilig
Bykans 240 inwoners van Upington, onder leiding van AfriForum, het vandeesweek ’n petisie aan die Dawid Kruiper Plaaslike Munisipaliteit oorhandig ter ondersteuning van verbeterde padveiligheid by die T-aansluiting op Quarry- en Schröderstraat. Die burgerregteorganisasie en die ondertekenaars van die petisie eis dat die munisipaliteit spoedhobbels by die T-aansluiting aanbring om voertuie betyds spoed te laat verminder voordat hulle die historiese treinbrug op Schröderstraat bereik.
Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Noord-Kaap, sê hierdie versoek gaan oor veel meer as net die veiligheid van een kruising. Sowat 100 m vanaf dié aansluiting is ’n padteken wat swaarvoertuie waarsku om regs te draai en nie verder met Schröderstraat te ry nie. Hierdie padteken is noodsaaklik, maar word dikwels misgekyk, aangesien daar ongeveer 600 m verder ’n lae spoorwegbrug is waarteen vragmotors oor die jare heen herhaaldelik vasgery en ernstige padongelukke veroorsaak het.
Dié historiese treinbrug is onlangs deur AfriForum oorgeverf om die sigbaarheid daarvan te verbeter en padgebruikers betyds te waarsku oor hoe laag dit is. Die bestaande veiligheidsmaatreëls kan egter verder versterk word deur voertuie reeds by die T-aansluiting te dwing om hul spoed te verminder.
“As vragmotors gedwing word om stadiger te ry, sal hulle meer tyd hê om die padtekens te sien wat hul waarsku oor die laagliggende brug. Dit sal boonop ook motoriste forseer om aan die stopteken gehoor te gee wat so dikwels roekeloos oorgesteek word,” sê Strauss.
“Die 236-handtekeninge weerspieël die gemeenskap se opregte besorgdheid oor padveiligheid en hul voorneme om saam met die munisipaliteit praktiese oplossings te vind wat ongelukke voorkom voordat dit gebeur. Padveiligheid is ’n gedeelde verantwoordelikheid. Elke voorkomende maatreël wat vandag ingestel word, kan môre ’n lewe red. Dit is daarom ’n betekenisvolle belegging in die toekoms van Upington.”



