| | |

AfriForum eis antwoorde oor beweerde storting van abattoir-bloed in Kakamas se rioolstelsel

AfriForum doen ’n beroep op die !Kai !Garib Plaaslike Munisipaliteit om dringend antwoorde te verskaf oor die bloed vanaf die Kakamas-abattoir wat na bewering direk in die munisipale rioolstelsel gestort of gepomp word.

Volgens Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Kalahari, is dié moontlike praktyk kommerwekkend, aangesien groot hoeveelhede abattoir-bloed ’n hoë organiese lading het en ’n rioolbehandelingstelsel kan oorlaai.

“Dit is onaanvaarbaar dat die munisipaliteit moontlik abattoir-afval na sy rioolstelsel verskuif sonder behoorlike voorbehandeling, beheer en die nodige magtigings. Kakamas se inwoners en waterbronne mag nie die prys betaal vir swak afvalbestuur nie,” sê Strauss.

AfriForum is verder bekommerd oor die toestand en integriteit van Kakamas se oksidasiedamme, oorloopriooldamme en verdampingsdamme. Die organisasie vra dat ’n onafhanklike tegniese ondersoek dringend gedoen word om vas te stel of daar enige lekkasie, deursypeling of risiko vir grond- en grondwaterbesoedeling bestaan.

AfriForum eis dat die munisipaliteit binne sewe dae:

  • bevestig of die abattoir gemagtig is om bloed en ander afval in die munisipale rioolstelsel te plaas;
  • die toepaslike permitte, magtigings en rioolaansluitingsvoorwaardes openbaar;
  • ’n onafhanklike inspeksie van die riool- en damstelsel laat doen;
  • onafhanklike water-, grond- en grondwatermonsters laat neem en deur ’n SANAS-geakkrediteerde laboratorium laat ontleed; en
  • alle relevante inspeksieverslae, toetsresultate, oorlooprekords en ingenieursverslae beskikbaar stel.

“Die munisipaliteit kan nie hierdie saak ignoreer nie. Dit gaan nie bloot oor reuke of ’n plaaslike gerieflikheidskwessie nie. Dit gaan oor die beskerming van Kakamas se water, grond, landbou en inwoners,” sê Strauss.

AfriForum sal die aangeleentheid na die Departement van Water en Sanitasie, relevante omgewingsowerhede en ander bevoegde regulatoriese liggame verwys indien die munisipaliteit versuim om dringend en deursigtig op te tree.

“Waar daar moontlik ’n risiko vir die omgewing en gemeenskap bestaan, moet die owerhede hul statutêre verantwoordelikhede nakom,” sluit Strauss af.

Besoek www.wordlid.co.za om by jou naaste AfriForum-tak aan te sluit en só ’n daadwerklike verskil in jou omgewing te maak.

Word n lid

Maak n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf