Vaaldriehoek-rioolkrisis: Nóg klagtes by klagstaat gevoeg
Die hofsaak teen April Ntuli, munisipale bestuurder van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, is op 3 Maart aangehoor en uitgestel na 4 Mei sodat die klagstaat gewysig kan word. Die uitstel volg nadat die staat aangedui het dat die ondersoek afgehandel is en dat verdere klagtes by die bestaande klagstaat gevoeg gaan word, waaronder klagtes wat AfriForum in 2024 en 2025 ingedien het.
Hierdie saak spruit uit drie afsonderlike strafregtelike klagtes wat AfriForum in 2018, 2024 en 2025 teen Ntuli aanhangig gemaak het oor die volgehoue rioolstortings in die Vaalrivier. Die klagtes hou verband met grootskaalse besoedeling wat die omgewing bedreig en gesondheidsrisiko’s vir inwoners inhou.
AfriForum het sy regspan ook opdrag gegee om ’n beampte aan te stel wat die strafregtelike proses noukeurig sal moniteer, hofverrigtinge sal bywoon, met die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) sal skakel en sal toesien dat die saak nie vertraag, afgewater of onnodig laat vaar word nie. Die beampte het bevestig dat die klagstaat nou al drie AfriForum se klagtes van rioolbesoedeling sal insluit.
AfriForum het die derde klag in Mei verlede jaar aanhangig gemaak ná rou riool weens verbrokkelde infrastruktuur by inwoners se huise ingevloei het. Ten spyte van herhaalde klagtes vanuit die gemeenskap en ’n memorandum wat aan die munisipale bestuur oorhandig is, is geen daadwerklike optrede geneem nie. AfriForum was gevolglik genoodsaak om ’n verdere strafregtelike klag te lê.
Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se hoof vir die sentraal streek, is dit goeie nuus dat al die klagtes in een klagstaat vervat gaan word, aangesien dit oor dieselfde volgehoue oortredings handel. “Sedert ons die eerste klag ingedien het, is geen verbeteringe aangebring nie. Die munisipale bestuurder ignoreer enige klagtes vanuit die gemeenskap, terwyl ons pragtige Vaalrivier verder besoedel en vernietig word. Die gemeenskap is keelvol vir ’n munisipaliteit wat faal in sy grondwetlike plig om inwoners en die omgewing te beskerm. Daarom sal ons graag wil sien dat die munisipale bestuurder in sy persoonlike hoedanigheid aanspreeklik gehou word deur ’n groot boete of selfs tronkstraf opgelê te word.”
Grobbelaar voeg by dat AfriForum sal aanhou om geregtigheid na te jaag. “Ons kan nie toelaat dat ons natuur voortdurend die prys betaal vir swak en onbevoegde bestuur nie. Daar is talle waarskuwings gerig, maar geen betekenisvolle optrede het gevolg nie. Iemand moet verantwoordelik gehou word vir hierdie omgewingsramp en die reg moet sy gang gaan.”
Intussen bly die gemeenskap langs die Vaalrivier self aktief betrokke by aksies om die rivier skoon te kry. Inwoners moes onlangs uit hul eie sakke betaal om waterslaai uit die rivier te verwyder as gevolg van rioolbesoedeling wat toegeneem het en voeding verskaf vir hierdie skadelike plant. Onlangse foto’s daarop dat groot hoeveelhede rou riool steeds in die rivier gepomp word.
AfriForum sal die hofverrigtinge op 4 Mei 2026 bywoon om toe te sien dat die proses deursigtig en regverdig verloop en dat aanspreeklikheid nie ontduik word nie.









