Beweerde hemelhoë spandering aan NGV-bemarking nog ’n rede waarom beoogde stelsel op ’n mislukking afstuur – AfriForum
AfriForum meen die besorgdheid oor die aard en omvang van spandering aan bemarking van Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) is nog ’n rede waarom dié stelsel waarskynlik sal misluk. Dit volg nadat Aaron Motsoaledi, minister van Gesondheid, Sondag ’n beroep gedoen het op die Spesiale Ondersoekeenheid, die ouditeur-generaal en die Openbare Beskermer om ondersoek in te stel na bewerings van reuse-spandering – ten bedrae van R182 miljoen – aan bemarking van onder meer die NGV-stelsel.
Die Departement van Gesondheid het volgens ’n News24-berig kontrakte aan twee ondernemings toegeken vir die bevordering van ’n aantal gesondheidsveldtogte, insluitend die bemarking van die NGV-stelsel. Die berig beweer verder dat geld vir dié bemarkingsveldtog vanaf kritieke gesondheidsprogramme herlei is en dat daar verskeie ongerymdhede in die aanwysing van die twee bepaalde ondernemings is.
Volgens Louis Boshoff, AfriForum se woordvoerder van gesondheid, bevestig hierdie vrae die organisasie se waarskuwings dat ’n reuse-NGV-begroting moontlik tot korrupsie en wanbesteding kan lei. “Ekonome en die Tesourie is dit eens dat die finansiering van die NGV-stelsel etlike honderde miljarde rande gaan vereis. As daar nóú reeds sprake van onreëlmatige besteding is, terwyl die NGV-wet nog nie eens in werking getree het nie, is daar soveel meer rede om te vermoed dat die uiteindelike NGV-fonds ’n teelaarde vir korrupsie gaan wees.”
Boshoff sê verder dat bemarking van die NGV-stelsel buitendien onnodig is. “Al hoe die stelsel ‘bemark’ moet word, is deur aan mense gehalte-gesondheidsorg te voorsien. Aangesien die departement dít nie regkry nie, wend hulle hul tot reklameborde en TV-advertensies,” voeg Boshoff by.
AfriForum beklemtoon dat hoewel die ondersoeke eers afgehandel moet word voor enige wanpraktyke bevestig kan word, die blote feit dat ondersoeke enigsins nodig geag word ’n gevaarteken op sigself is.
AfriForum het vroeër vanjaar die president en die minister van Gesondheid gedagvaar om die grondwetlikheid van die NGV-wet in die hof te toets. Dié saak sal voortgaan nadat uitspraak gelewer is in ’n ander saak oor die openbare deelnameproses van die NGV-wetsontwerp.



