AfriForum slyp tande om historiese sportklub te help ná Tshwane-metro-kennisgewing
Die burgerregteorganisasie AfriForum gaan die historiese Harlequins-sportklub met regshulp bystaan ná die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit ’n kennisgewing aan die sportklub oorhandig het waarin opdrag gegee is dat die terrein teen 13 April 2026 na sy “oorspronklike toestand” herstel moet word. Die organisasie eis in ’n skrywe aan die metro duidelikheid oor die redes vir die uitreik van hierdie kennisgewing aangesien die Harlequins-sportklub reeds aansoeke ingedien het wat hierdie kwessie sou uitklaar.
Die Tshwane-metro voer aan dat die terrein tans as “nie-toegeken” gesoneer is, ’n soneringstatus wat met landbougrond geassosieer word. Die Harlequins-sportklub het egter reeds in 2021 aansoek gedoen dat die klub se soneringstatus na sport- en ontspanningsgronde verander moet word, maar byna vyf jaar later is die soneringsaansoek steeds nie gefinaliseer nie.
“Die Tshwane-metro se versuim om hul administratiewe pligte na te kom kan nou daartoe lei dat ’n klub, wat sedert 1903 ’n belangrike rol in die gemeenskap speel, gesluit word. Ons is reeds besig om met ons regspan te konsulteer oor ons volgende stappe,” sê Maree van den Berg, AfriForum se distrikskoördineerder vir die groter Pretoria-Suid.
Die Harlequins-sportklub is vir die afgelope 123 jaar reeds ’n belangrike rolspeler in Pretoria en sowat 64 Springbok-rugbyspelers se stories het op hierdie klub se velde begin. Die klub dien as ontwikkelingsentrum vir die plaaslike jeug en talle jong spelers wat nie elders die geleentheid sou kry nie, maak hier vir hulself naam. Die klub skep geleenthede vir rugby-, hokkie-, muurbal-, krieket- en rolbalspelers asook vir kranige hardlopers.
Benewens die belangrike rol wat die Harlequins-sportklub in plaaslike sport en jeugontwikkeling speel, kan die ekonomiese impak van hierdie sportklub nie geringskat word nie. Die sportklub het ongeveer 800 lede en bied aan sowat 10 individue ’n vaste inkomste deur die loop van ’n jaar.
“In ’n land waar werkloosheid ’n wesenlike probleem is kan daar nie bekostig word dat een enkele werk verlore gaan weens ’n metro se administratiewe nalatigheid nie,” voeg Van den Berg by.
AfriForum het intussen ’n petisie begin waar die gemeenskap hul steun agter die Harlequins-sportklub kan werp en sodoende ook druk toepas op die Tshwane-metro om nie voort te gaan met versoeke van hierdie aard teen die sportklub nie.
Die Harlequins-sportklub en AfriForum bied ook op 11 April ’n samekoms aan waar die gemeenskap hul steun vir die sportklub kan wys. Belangstellendes kan hul bywoning hier bevestig en die petisie teken.



