AfriForum se Bloemfontein-buurtwagte lê meer as 2 100 km af tydens massapatrollie
AfriForum se nege Bloemfontein-buurtwagte het tydens die organisasie se massapatrollie wat die afgelope Vrydag- en Saterdagnag (24 en 25 Julie) aangepak is, meer as 2 100 km afgelê en 36 uur se patrollietyd voltooi. Altesaam 74 deelnemers en 40 voertuie het aan dié grootskaalse veiligheidsoperasie in dié stad deelgeneem wat in samewerking met verskeie veiligheid-, verkeer- en mediese rolspelers aangebied is.

Die AfriForum-massapatrollie is ’n landwye inisiatief wat hierdie naweek deur AfriForum-buurtwagte oor die hele land heen aangepak is.
Al nege die organisasie se buurtwagte in en om Bloemfontein – naamlik die Rayton-Heuwelsig-, Bloemfontein-Noord-, Bloemfontein-Noord Landelik-, Hospitaalpark-, Pellissier-, Fichardtpark-, Uitsig-, Langenhovenpark- en Wilgehof-buurtwag – het aan die veiligheidsoptrede deelgeneem. Die patrollie is verder ondersteun deur ’n netwerk van veiligheid- en noodreaksierolspelers, insluitende Fidelity SecureFire, Fidelity ADT, Mata Sec, SecuriForce, Bloemsec, Pro-Force, VR Med, Vrystaatse verkeerspolisie, die Bayswater- en Bainsvlei-polisiekantore, asook die AfriForum 911-reaksie-eenheid.
Benewens die patrollie het buurtwagte in Bloemfontein se suidelike voorstede ook ’n gebeurlikheidsplanoefening by ’n plaaslike skool uitgevoer. Die oefening het deelnemers se gereedheid, kommunikasie en vermoë om gekoördineerd op noodsituasies te reageer, suksesvol getoets.
“Die waarde van hierdie massapatrollie lê nie bloot in die sigbaarheid van die deelnemers of selfs die kilometers wat afgelê is nie, maar in die vermoë van al die rolspelers om as ’n geïntegreerde veiligheidsnetwerk vinnig en doeltreffend in werklike noodsituasies op te tree,” sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein.
Volgens Groenewald berus AfriForum se gemeenskapsveiligheidstrategie op gereelde patrollies, praktiese oefeninge en noue samewerking tussen veiligheidsrolspelers.
“Veilige gemeenskappe ontstaan nie vanself nie. Dit verg toegewyde vrywilligers, goeie kommunikasie, deeglike beplanning en volgehoue samewerking. Ons bedank elke buurtwaglid en rolspeler wat hul tyd, voertuie, toerusting en kundigheid beskikbaar gestel het om by te dra tot ’n veiliger Bloemfontein,” sluit Groenewald af.



