AfriForum eis antwoorde oor Vrystaatse regering se versuim om Ngwathe-hofbevel uit te voer
AfriForum eis dringende antwoorde van MaQueen Letsoha-Mathae, premier van die Vrystaat, oor die provinsiale regering se versuim om uitvoering te gee aan ’n hofbevel wat die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit onder administrasie moet plaas. Die burgerregteorganisasie het sy versoek om antwoorde gister in ’n brief aan die premier uiteengesit nadat dit aan die lig gekom het dat die munisipale raad – wat ingevolge ’n hofbevel reeds ontbind moes gewees het – verlede week ’n begroting vir die nuwe boekjaar aanvaar het.
Die Vrystaatse Hooggeregshof in Bloemfontein het reeds op 20 Junie 2025 beslis dat die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit sy grondwetlike, wetlike en administratiewe verpligtinge teenoor inwoners versuim het. Die hof het die provinsiale regering beveel om ingevolge artikel 139(5) van die Grondwet in te gryp, ’n herstelplan te implementeer, die munisipale raad te ontbind, ’n administrateur aan te stel en ’n tydelike begroting op te stel en goed te keur.
Die hofbevel is finaal en afdwingbaar nadat die Konstitusionele Hof op 2 Junie vanjaar die munisipaliteit se laaste poging om teen die uitspraak te appelleer van die hand gewys het.
AfriForum is egter bekommerd dat die provinsiale regering nog nie die nodige stappe gedoen het om dié bevel uit te voer nie. Daar is boonop ook geen aanduiding dat die munisipaliteit onder administrasie geplaas is of dat ’n administrateur aangestel is nie.
“Die premier het volgens mediaberigte aangedui dat die hofbevel sonder versuim uitgevoer sal word. Tog lyk dit asof die munisipale raad steeds voortgaan om besluite te neem asof geen hofbevel bestaan nie. Dit wek ernstige vrae oor die provinsiale regering se nakoming van sy grondwetlike verpligtinge en die oppergesag van die reg,” sê Alta Pretorius, distrikskoördineerder vir AfriForum se Mooirivierstreek.
In sy skrywe aan die premier vra AfriForum dat daar teen 26 Junie skriftelik bevestig word watter stappe reeds gedoen is om die hofbevel uit te voer; wanneer die ingryping amptelik afgekondig gaan word; wanneer die munisipale raad ontbind en ’n administrateur aangestel sal word; en hoe die provinsie beoog om volle uitvoering aan die hofbevel te gee.
AfriForum beklemtoon dat die Ngwathe-munisipaliteit se inwoners reeds jare lank gebuk gaan onder swak dienslewering, infrastruktuurverval en bestuursmislukkings. Die organisasie sal nie huiwer om verdere regstappe te doen indien die provinsiale regering versuim om aan die hofbevel gehoor te gee nie.
“Geen regeringsinstelling is bo die reg verhewe nie. Die hof het duidelike instruksies gegee oor wat moet gebeur om die krisis in dié munisipaliteit te takel. Die Vrystaatse regering moet nou wys dat hy die hof se gesag respekteer en bereid is om in die belang van inwoners op te tree,” sê Schalk Burger, voorsitter van AfriForum se Parys-tak.



