|

Waterregte in regering se visier: Rigiede transformasiemaatreëls en groter staatsbeheer riskant, waarsku AfriForum

Klankgreep: Marais de Vaal (Afrikaans)
Klankgreep: Marais de Vaal (Engels)

AfriForum hou vol dat die implementering van die Nasionale Waterwysigingswetsontwerp van 2026 in sy huidige vorm verreikende bykomende magte oor die toekenning van waterregte vir produktiewe aanwending aan die regering sal gee. Die burgerregteorganisasie meen die implementering van die wetsontwerp sal uiteenlopende risiko’s inhou en onder meer beleggings ontmoedig, finansieringsrisiko’s verhoog en produksie en indiensneming in waterafhanklike sektore soos landbou onder verdere druk plaas.

Die organisasie het vandag sy skriftelike kommentaar op die wetsontwerp ingedien by die parlement. Hierin beklemtoon AfriForum dat hoewel die bevordering van billike toekenning van watergebruiksregte ’n belangrike en regmatige doelwit van die Nasionale Waterwet is, maatreëls wat groter ministeriële diskresie oor die substantiewe inhoud van regulasies en administratiewe besluitneming oor die toekenning van watergebruiksregte toelaat, regsekerheid ondermyn. Terselfdertyd doen die wetsontwerp min om die praktiese knelpunte wat vordering met die billike toekenning van watergebruiksregte vertraag, die hoof te bied.

Volgens Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake, staan die benadering tot die regstelling van historiese rasse- en geslagsdiskriminasie – tans een van verskeie faktore wat gebalanseer moet word in die toekenning van watergebruiksregte – aan die kern van AfriForum se beswaar teen die wetsontwerp. “Die wetsontwerp verhef die regstelling van rasse- en geslagsdiskriminasie tot ’n aparte, verpligte vereiste sonder om te verduidelik hoe dit opgeweeg moet word teen praktiese faktore soos of die water produktief aangewend sal word, of wat die uitwerking daarvan sal wees op werksgeleenthede, beleggings en bestaande wettige watergebruike,” verduidelik De Vaal.

In die afwesigheid van duidelike wetlike riglyne, laat dit amptenare boonop met wye diskresionêre magte. Dit skep onsekerheid en gee die regering buitensporige ruimte om verreikende besluite te neem sonder duidelike beskermingsmaatreëls vir geaffekteerde watergebruikers.

Die voorgestelde “gebruik-dit-of-verloor-dit”-bepaling wat in die wetsontwerp vervat is, sal voorts toelaat dat ’n bestaande wettige watergebruik beperk kan word indien die volle toegekende volume nie vir ’n tydperk, wat deur die minister bepaal word, gebruik is nie. Dié bepaling is ook volgens AfriForum problematies aangesien die wetsontwerp nie behoorlik onderskeid tref tussen doelbewuste onbruik en omstandighede soos droogte, oorstromings of infrastruktuurtekortkominge wat redelikerwys tot ’n afwyking van normale gebruikspatrone kan lei nie. Onder sulke omstandighede kan dit onregverdig wees om ’n watergebruiker se gebruik te beperk.

Verdere aspekte van die wetsontwerp wat AfriForum as problematies beskou, sluit in die verwydering van die meganisme waardeur ’n persoon aansoek kan doen om ’n bestaande wettige watergebruik formeel te laat erken; die uitbreiding van breë ministeriële magte om water tussen sektore, provinsies en opvangsgebiede te herverdeel; en groter regeringsbeheer oor die lidmaatskap en funksionering van watergebruikersverenigings.

De Vaal benadruk dat dié verenigings veronderstel is om te funksioneer as vrywillige, samewerkende strukture wat plaaslike watergebruikers bedien, nie as uitbreidings van ’n gesentraliseerde regering nie.

AfriForum waarsku ook dat die watertribunaal, wat deur die Nasionale Waterwet daargestel is om sekere geskille oor waterregte buite die howe te beslis, tans nie as ’n doeltreffende meganisme vir regspleging funksioneer nie. “Dit sou onverantwoordelik wees om die departement se uitvoerende magte uit te brei, terwyl die einste tribunaal – wat veronderstel is om spoedige remedies te lewer om die billike toekenning van waterregte te bevorder – gekenmerk word deur agterstande en institusionele tekortkominge,” verduidelik De Vaal verder.

“Daar is reeds soveel bestaande meganismes wat veronderstel is om die billike toekenning van watergebruiksregte te bevorder. Tog is dié meganismes ná bykans drie dekades stééds nie doeltreffend geïmplementeer nie. Die verdere uitbreiding van die regering se magte is derhalwe onregverdigbaar, veral omdat die regering nie sy mislukkings eerlik kan konfronteer nie. Daarom kan ons met reg vra of hierdie wysigings werklik meer water in produktiewe watergebruikers se hande sal plaas, of bloot – ten koste van die breër samelewing – meer mag in die hande van die regering sal plaas,” sluit De Vaal af.

Watergebruiksregte word benodig om die ontwikkeling van myne, nywerhede en bosboubedrywighede te ondersteun. Sekerheid oor watergebruiksregte is veral bepalend om die waarde van landbougrond te ontsluit, omdat besluite oor langtermynbeleggings, in byvoorbeeld besproeiingstelsels of die aanplant van nuwe boorde, daarop berus. Indien die wetsontwerp hierdie regte beperk of uitwis sonder duidelike kriteria, voldoende vergoeding of behoorlike prosedurele beskerming, kan dit rampspoedige ekonomiese gevolge hê.

Die Portefeuljekomitee oor Water en Sanitasie moet nou die openbare voorleggings oorweeg en besluit watter veranderinge aangebring moet word voor die hersiene wetsontwerp aan die Nasionale Vergadering voorgelê word.

AfriForum sal voortgaan om die wetgewende proses te moniteer. Indien die wysigings wet word sonder dat hierdie bekommernisse uit die weg geruim word, sal AfriForum die nodige stappe doen om enige onwettige of ongrondwetlike implementering van die bepalings te betwis.

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik