Boland-takke hou hoë sigbaarheidspatrollie ná reeks plaasaanvalle
AfriForum se Helderberg-, Paarl- en Stellenbosch-buurtwagte het op Vrydag 12 Junie ’n gesamentlike hoë sigbaarheidspatrollie in die Stellenbosch- en Paarl-omgewing uitgevoer in reaksie op die talle plaasaanvalle en aanval pogings wat die afgelope drie weke in dié gebied plaasgevind het.
Die operasie het gebiede vanaf Stellenbosch tot by Jordan Farms naby Zevenwacht en verby Raithby ingesluit. Altesaam 21 vrywilligers met 12 voertuie het aan die patrollie deelgeneem. Die span het ook gebruik gemaak van vier nagsig toestelle en twee hommeltuie om die gebied doeltreffend te moniteer.
Waarnemings tydens die patrollie het bevestig dat misdadigers dikwels gebiede teiken wat dig bebos, swak verlig en naby rivierlope geleë is. Die helder maanlig het oop gebiede goed verlig, wat dit moeiliker maak vir verdagtes om ongemerk in dié areas te beweeg. Dit het die belangrikheid beklemtoon om veral donker en digbegroeide gebiede deeglik te moniteer, aangesien dit blykbaar deel van misdadigers se modus operandi vorm.
Die operasie het verder die kardinale rol van hommeltuie in landelike veiligheidsoperasies uitgelig. Die weersomstandighede was gunstig vir lugwaarneming, met matige wind en koel temperature wat dit makliker gemaak het om hittebronne op te spoor.
“Die samewerking tussen die verskillende takke en die bereidwilligheid van vrywilligers om lang afstande af te lê om hul gemeenskappe te ondersteun, was besonders bemoedigend. Sommige deelnemers het van so ver as Vredendal en Malmesbury gereis om deel van die operasie te wees,” sê Ruan Erasmus, buurtwagleier by AfriForum se Stellenbosch-tak.
“AfriForum bedank alle rolspelers vir hul betrokkenheid en ondersteuning tydens die operasie. Gegewe die feit dat daar die afgelope vier weke telkens op naweke aanvalle of aanvalspogings in die gebied aangemeld is, word die moontlikheid van soortgelyke toekomstige operasies tans ondersoek,” sê Marique van Dalen, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland.
AfriForum doen ’n beroep op landelike gemeenskappe om waaksaam te bly, verdagte aktiwiteite onmiddellik aan te meld en veiligheidsinisiatiewe in hul gebiede te ondersteun om misdaad proaktief te help bekamp.
Raak vandag betrokke by jou naaste AfriForum-tak. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.



