AfriForum weerlê die mite dat wit mense 72% van grond in Suid-Afrika besit tydens eiendomsregkonferensie
AfriForum het vandag die mite rakende die 72% wit eienaarskap van grond tydens ’n konferensie oor eiendomsreg weerlê. Die konferensie wat in Pretoria gehou is, is daarop gemik om die uiteenlopende wanpersepsies en leuens oor grondbesit, grondhervorming en onteiening sonder vergoeding te ondersoek. Die bevindinge wat in hierdie konferensie na vore gekom het, sal ’n belangrike deel vorm van AfriForum se voortgesette stryd op om op eie bodem en internasionaal pritvaat eiendomsreg te beskerm.
Volgens die organisasie word verskeie bewerings in Suid-Afrika se kontroversiële en emosionele debat oor grond as feite voorgehou sonder dat daar behoorlik ondersoek ingestel word na die akkuraatheid daarvan.
AfriForum het gedurende die konferensie ook ’n feiteblad beskikbaar gestel wat hierdie mites oor grondbesit uitdaag. Die konferensie is onder meer bygewoon deur verteenwoordigers van die Amerikaanse en Nederlandse ambassades.
Die eerste spreker was Ernst van Zyl, hoof van Openbare Betrekkinge by AfriForum, wat teenargumente en bewyse uiteengesit het vir die gewildste mites oor grond in Suid-Afrika. Van Zyl het verder verduidelik hoe die 2017-grondoudit, wat tot vandag toe steeds in belangrike gronddebatte en beleidsbesluite aangehaal word, gebrekkig is. Laastens het hy uiteengesit hoe die Suid-Afrikaanse regering misluk het met betrekking tot grondhervormingsprojekte, en alternatiewe oplossings voorgestel.

Burgert Gildenhuys, ’n kenner in munisipale beplanning, ruimtelike, ekonomiese ontwikkeling en plaaslike regeringsfinansies, het verduidelik hoe gebrekkig die regering se pogings tot berekeninge van grondeienaarskap was. Laastens het dr Theo de Jager, voorsitter van die Suider-Afrikaanse Agri-inisiatief (Saai), ’n boer se perspektief op bedreigings vir private eiendomsreg in Suid-Afrika verskaf. Die drie sprekers het ook deelgeneem aan ’n paneelbespreking, gelei deur Louis Boshoff, ’n woordvoerder by AfriForum, waar die temas van hul aanbiedings verbind is.


Volgens Van Zyl is die voortgesette aanhaling van die 2017-grondoudit se statistieke in 2026 en daarna misleidend en oneerlik. “Die bewering dat wit mense ‘72% van die grond beheer’ is disinformasie, in die oorspronklike en ware sin van die woord.”
“Die kwessie van grond bly kompleks en multi-dimensioneel. Dit is in die belang van eerlike openbare debat, gesonde beleidmaking en verbeterde rasseverhoudinge, dat AfriForum vra vir ’n meer gebalanseerde, bewysgebaseerde eerder as ’n rasgebaseerde diskoers rondom grond- en eiendomsreg in Suid-Afrika. Ons bedank almal wat saam met ons staan in hierdie belangrike stryd,” sluit Van Zyl af.



