| |

AfriForum omarm moeë munisipale werkers ná windstorm

Die AfriForum-tak in Kariega (Uitenhage) het sy waardering vir die munisipale werkers getoon wat tot laat in die aande werk om kraginfrastruktuur te vervang wat tydens ’n onlangse windstorm beskadig is. Lede van die Uitenhage-tak en Mosel-buurtwag het drink- en eetgoed aan twee spanne met 20 werkers elk verskaf.

Sterk winde in die omgewing het daartoe gelei dat elektriese kabels op verskeie plekke beskadig is toe bome en takke daarop neergestort het. Die skade het talle inwoners vir tot 10 dae sonder krag gelaat. Munisipale werkers het vir etlike ure en in moeilike omstandighede gewerk in ’n poging om die skade te herstel. Sekere dele van die gebied se kragtoevoer is egter steeds nie herstel nie.

“Hierdie mense werk onder uitdagende omstandighede in ’n poging om noodsaaklike dienste aan die gemeenskap te herstel. As buurtwag glo ons dit is belangrik om erkenning te gee aan diegene wat in die belang van die gemeenskap optree deur meer te doen as wat van hulle verwag word,” sê Minette van der Vyver, leier van die Mosel-buurtwag.

Die buurtwag benadruk dat samewerking tussen gemeenskappe, nooddienswerkers en munisipale personeel van kardinale belang is tydens tye van nood en natuurrampe. Klein gebare van ondersteuning help om ’n positiewe en sterk gemeenskap te vestig.

AfriForum se Mosel-buurtwag bedank ook alle nooddienspersoneel, munisipale werkers en vrywilligers wat die afgelope tyd onverpoos gewerk het om skade te beperk en inwoners by te staan tydens en ná die storms.

Jý kan ook ’n verskil maak

Raak vandag nog by AfriForum se Uitenhage-tak en -buurtwag betrokke en maak ’n tasbare verskil in jou gemeenskap. Kontak Minette by 083 6855 815 om by die tak of buurtwag aan te sluit of besoek www.afriforumbuurtwag.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf