|

Ouers moet sterk staan teen administratiewe wanbestuur

Alana Bailey, hoof van Kultuursake

Die afgelope tyd het dit duidelik geword dat openbare skole in meer as een provinsie onder die provinsiale Onderwysdepartemente se wanbestuur ly.

In Gauteng is 79 skole deur die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit geteiken weens die provinsiale departement se wanbetaling van hul eiendomsbelasting. Skole se elektrisiteitstoevoer is summier afgesny en gevolglik is die onskuldiges, naamlik die skole en leerders, gestraf vir skuld waarvoor hulle hoegenaamd nie verantwoordelik is nie.

Die gevolge was omvattend. Donker, koue klaskamers sonder werkende apparatuur het onderrig bemoeilik en sekuriteitstelsels is gekompromitteer, wat almal op die terrein se veiligheid in gevaar gestel het. Skole wat voedingsprojekte vir behoeftige leerders aanbied se voorrade het begin bederf, terwyl die kinders sonder hul daaglikse warm ete moes klaarkom. Verder moes skole met kragopwekkers hul hande diep in hul sakke steek om diesel te betaal sodat die mees noodsaaklike dienste kon voortgaan.

Alternatiewe soos privaat skole of tuisonderrig is nie vir almal ’n opsie nie en openbare skole bied steeds uitnemende onderrig aan. Hulle maak staat op ouers se hulp om die beste moontlike omgewing en leeruitkomste vir ons kinders te bied.

Net een skool se beheerliggaam het die moed aan die dag gelê om saam met AfriForum die hof om verligting te nader, maar die uitspraak was ’n oorwinning vir ál die betrokke skole. Daar is gelas dat hul elektrisiteitstoevoer dadelik herstel moes word, geen verdere skole benadeel moes word nie en dat die metro skadevergoeding aan die skole moet betaal vir enige verliese wat weens die kragonderbrekings gely is. AfriForum het onderneem om skole by te staan as die eise nie uitbetaal word nie.

Verder spook skole in Gauteng om begrotings te laat klop weens die departement se laat oorbetalings van die verpligte toewysings per leerder. Bedrae van 2025 is eers in Januarie 2026 oorbetaal en dié van vanjaar is nog uitstaande.

Verlede week het skole in Middelburg in die Oos-Kaap gedreig om weens daardie provinsiale Onderwysdepartement se wanbetaling van salarisse te sluit. ’n Skikking is volgens mediaberigte ter elfder ure tussen Hoërskool Middelburg en die departement bereik, maar wat die situasie by ander skole is, is onbekend.

Hierdie insidente, asook wydverspreide klagtes oor provinsiale departemente se gebrekkige onderhoud van infrastruktuur by skole, bedreig die veiligheid van oud en jonk op skoolterreine.

Ouers het nou meer as ooit nodig om by hul kinders se skole betrokke te raak. By openbare skole moet hulle sorg dat beheerliggame verkies word wat kundig is en die ouers se waardes vreesloos sal verteenwoordig. Personeel moet sorg dat hulle beskerming in die werksplek geniet deur byvoorbeeld by Solidariteit aan te sluit. Veiligheidsoudits wat AfriForum aanbied, kan help bepaal watter risiko’s op skoolterreine bestaan.

Provinsiale begrotings gaan helaas nie meer by alle uitgawes bykom nie. Druk moet daarom op hulle uitgeoefen word om meer outonomiteit aan suksesvolle skole te gee. Ouers en welwillende besighede in die omgewing kan verder help om infrastruktuur in stand te hou ter wille van die veiligheid, maar ook die moraal van die skoolgemeenskap.

Alternatiewe soos privaat skole of tuisonderrig is nie vir almal ’n opsie nie en openbare skole bied steeds uitnemende onderrig aan. Hulle maak staat op ouers se hulp om die beste moontlike omgewing en leeruitkomste vir ons kinders te bied.

Word n lid

Maak n donasie

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners