Botsing by Parys-kruising volg ná munisipaliteit se koppigheid – AfriForum
’n Botsing waarby twee voertuie gister (19 Mei) by ’n kruising in Parys betrokke was, kon voorkom gewees het as die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit hul hardkoppigheid laat staan het en ’n skenking, ter bevordering van padveiligheid, van AfriForum se Parys-tak aanvaar het. Gister se botsing het plaasgevind op die hoek van Kort- en Wesstraat – een van die kruisings wat AfriForum ’n geruime tyd gelede al as risiko geïdentifiseer het weens die afwesigheid van stoptekens en duidelike padmerkers.
Die munisipaliteit hou hom egter reeds sedert verlede jaar doof vir AfriForum se waarskuwings oor die tekort aan stoptekens by verskeie kruisings in dié Vrystaatse dorp en die behoefte aan die opknapping van verweerde padmerkers. Boonop is die skenking van 16 nuwe stoptekens deur die plaaslike AfriForum-tak ook verlede jaar van die hand gewys.
Alta Pretorius, distrikskoördineerder vir AfriForum se Mooirivierstreek, meen amptenare se ego’s staan in die pad van motoriste en voetgangers se veiligheid. “Moet daar eers ’n noodlottige ongeluk wees voordat die munisipaliteit gehoor sal gee?” vra sy.
AfriForum se Parys-tak het in Mei verlede jaar 16 stoptekens aan Bernie Mc Dermott, Ngwathe se verkeershoof, oorhandig, om die tekort aan dié noodsaaklike verkeerstekens by verskeie kruisings in die dorp die hoof te bied. Dr. Futhuli Mothamaha, munisipale bestuurder, het egter die skenking van die hand gewys. Hy het aangevoer dat AfriForum nie die regte prosedure gevolg het nie en nie toestemming gekry het om die skenking te maak nie.
In reaksie hierop het die tak die munisipaliteit skriftelik versoek om dringend aandag te skenk aan die afwesigheid van stoptekens en padmerkers wat padveiligheid in gedrang bring.
Intussen het die munisipaliteit dit laat blyk dat die stoptekens wat die tak geskenk het, nie opgesit kan word nie omdat daar ’n plakker met AfriForum se logo agterop geplak is. Ondanks die tak se aandrang dat die betrokke plakkers dan verwyder moet word en die stoptekens opgerig moet word, is dit steeds nie gedoen nie – ’n besluit wat nou reeds rampspoedige gevolge ingehou het.
“Die munisipaliteit se onbereidwilligheid om op te tree, bevestig dat hulle hul verantwoordelikheid teenoor die padgebruikers in Parys ignoreer. Dit is tyd dat die aanspreeklike persoon, naamlik die munisipale bestuurder, persoonlik verantwoordelik gehou word vir ongelukke wat veroorsaak word deur die gebrek aan verkeerstekens en skade aan voertuie wat spruit uit die talle slaggate in die dorp,” sê Schalk Burger, voorsitter van AfriForum se Parys-tak.
Pretorius kap die munisipaliteit en hou vol dat die verkwisting van belastingbetalers se geld ook tot die tekort aan padveiligheid in die dorp bydra. “As die munisipaliteit die geld wat hulle vermors om teen hofuitsprake te appelleer, gebruik het om die paaie in stand te hou en verkeerstekens op te rig, sou die hele Parys by elke kruising vier stoptekens gehad het,” sluit Pretorius af.



