|

AfriForum maan vakansiegangers: Moenie dat slenters jou vakansie bederf nie

Met die komende feestyd en duisende Suid-Afrikaners wat hul Desembervakansies beplan, waarsku AfriForum die publiek om waaksaam te wees vir vakansieslenters. Swendelaars gebruik toenemend gesofistikeerde metodes om vakansiegangers te oortuig om deposito’s of volle betalings vir verblyf en vakansiepakkette te maak wat nie bestaan nie, of waartoe die sogenaamde verhuurder geen regmatige toegang het nie.

Die Finansiële Intelligensiesentrum (FIS) het reeds gewaarsku dat vakansieverwante bedrog veral voor en gedurende vakansietydperke voorkom. Die metodes sluit onder meer in vals advertensies vir verblyf, gekloonde webwerwe en advertensies, gekaapte besprekingsportale en swendelaars wat hulself as reisagente voordoen. Swendelaars kan selfs foto’s, adresse en ander besonderhede van werklike vakansie-eiendomme gebruik om hul slenters geloofwaardig te laat voorkom.

Volgens Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid, beteken dit dat vakansiegangers nie meer bloot kan aanvaar dat ’n bespreking eg is omdat die eiendom werklik bestaan of die advertensie professioneel lyk nie.

Jacques Broodryk (Afrikaans)

“Die dae toe ’n mens ’n slenter maklik aan swak spelling en ’n verdagte advertensie kon uitken, is verby. Misdadigers steel foto’s van werklike vakansiehuise, boots wettige ondernemings na en kan selfs ’n bestaande besprekingsrekening kaap en verbruikers oortuig om buite dié platform betalings te maak. Jy moet die eiendom, die persoon wat dit verhuur én die betalingsbesonderhede onafhanklik verifieer voordat jy geld oorbetaal,” sê Broodryk.

Daar is ook gevalle waar dieselfde verblyf aan verskeie families vir dieselfde tydperk uitverhuur word. In een geval het minstens ses families glo gedurende die feestyd by ’n wildreservaat opgedaag met besprekings vir dieselfde verblyf en oorvleuelende datums. Een familie van 18 het na berigte reeds R24 500 betaal vir dié vakansie.

AfriForum waarsku ook teen swendelaars wat hul as reisagente voordoen. In een saak, wat in 2025 aan die lig gekom het, het meer as 48 families aangevoer dat hulle gesamentlik sowat R5 miljoen verloor het nadat hulle vir vakansies betaal het wat nie soos beloof gerealiseer het nie.

“’n Bekende naam, professionele faktuur, moderne webwerf of selfs die feit dat jy voorheen suksesvol by iemand bespreek het, is nie genoeg rede om tienduisende rande sonder verdere verifikasie oor te betaal nie. Neem ’n paar minute ekstra en maak seker met wie jy werklik sake doen,” voeg Broodryk by.

AfriForum-wenke om vakansieslenters te vermy:

  • Onafhanklike verifiëring van die eiendom:

Moenie outomaties glo dat die besonderhede van die verblyf eg is nie. Soek self na die adres van die gekose verblyf en verifieer of dit werklik bestaan en besit of bestuur word deur die persoon met wie jy in verbinding is.

  • Verifieer die verhuurder:

Indien die verblyf deel van ’n kompleks, landgoed of oord is, kontak die bestuur onafhanklik en bevestig dat die persoon of agentskap wel gemagtig is om die eenheid te verhuur.

  • Doen ’n omgekeerde beeldsoektog:

Foto’s van ’n wettige eiendom kan eenvoudig gekopieer en in ’n vals advertensie gebruik word. Doen ’n omgekeerde beeldsoektog op die internet om te bevestig of dit elders al gebruik of gedupliseer is.

  • Moenie ’n besprekingsplatform onnodig verlaat nie:

Wees versigtig wanneer iemand jou vra om die gesprek na WhatsApp te skuif en direk per EFT te betaal in ruil vir afslag. Sodra ’n betaling buite die besprekingsportaal gemaak word, word verbruikers se beskerming teen slenters nietig gemaak.

  • Wees agterdogtig oor buitengewone winskopies:

’n Luukse vakansiehuis wat aansienlik goedkoper is as soortgelyke verblyf in dieselfde gebied behoort waarskuwingsligte te laat flikker.

  • Moenie onder druk swig nie:

Stellings soos “betaal binne die volgende uur”, “iemand anders wil dit nou bespreek” of “jy verloor jou bespreking vandag” word gebruik om mense te dwing om te betaal voordat hulle die bespreking behoorlik nagegaan het.

  • Verifieer bankbesonderhede:

Indien bankbesonderhede verander nadat jy reeds bespreek het, bevestig dit telefonies deur die nommer te skakel wat jy onafhanklik bekom het.

  • Wees versigtig vir betalingskakels:

’n Boodskap wat jou naam, verblyf en korrekte reisdatums bevat is nie noodwendig eg nie. Suid-Afrikaanse toeroperateurs is reeds geteiken met boodskappe wat werklike besprekingsbesonderhede bevat.

  • Lees resensies krities:

Kyk hoe lank ’n profiel bestaan, wanneer resensies geplaas is en of onafhanklike resensies op ander platforms beskikbaar is.

  • Bevestig jou bespreking weer voordat jy vertrek:

Kontak die verblyfplek ’n week of twee voor vertrek en bevestig jou naam, datums, eenheid en betaling.

  • Bewaar alle bewyse:

Hou advertensies, WhatsApp-boodskappe, e-posse, fakture, bankbesonderhede en betalingsbewyse indien daar later ’n dispuut of strafregtelike ondersoek is.

  • Tree dadelik op as jy vermoed dat jy bedrieg is:

Kontak jou bank so gou moontlik om vas te stel of die transaksie gestuit of die fondse opgespoor kan word en meld die bedrog by die SAPD aan.

“Die belangrikste reël is eenvoudig: verifieer voordat jy betaal. ’n Paar ekstra minute se navorsing kan die verskil beteken tussen ’n welverdiende vakansie en ’n gesin wat by hul bestemming aankom met duisende rande se skade en nêrens om te bly nie,” sluit Broodryk af.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

Veiligheid