Só veg AfriForum se Johannesburg-Noord-buurtspan teen verval in die Goudstad
AfriForum se buurtspan in Johannesburg-Noord het dalk net twee lede, maar hierdie manne veg verbete teen munisipale verval wat oral in die Goudstad te sien is. As hulle nie slaggate herstel nie, is hulle besig om gras te sny of selfs om instandhouding by ’n plaaslike polisiekantoor te doen.
Inwoners van Robin Hills, in Randburg, was al behoorlik warm onder die kraag oor ’n sloot wat omtrent drie jaar gelede deur Mulbartonweg gegrawe is om veselkabels te installeer, maar nooit behoorlik herstel is nie. Die sloot het mettertyd al hoe groter geraak en die Johannesburg Metropolitaanse Munisipaliteit het dit ná herhaalde versoeke steeds nie herstel nie. Dit is toe dat die buurtspan in Junie vanjaar die plaaslike gemeenskap gemobiliseer het om self iets aan die gevaarlike stand van die pad te doen.
Johan Tredoux, voorman van AfriForum se Johannesburg-Noord-buurtspan, sê samewerking tussen AfriForum en die gemeenskap kan baie verrig. “Die tak het voorraad verskaf en toerusting gehuur om die werk aan te pak. Die buurtspan het sommer vroegdag saam met ’n paar vrywilligers ingespring om die herstelwerk te begin. Daar het ook deur die loop van die dag ’n paar plaaslike inwoners opgedaag om te help. Uiteindelik kon ons die sloot behoorlik herstel en die pad weer vir gebruik veilig maak,” verduidelik Tredoux.
Hierdie projek dien volgens Tredoux as ’n boodskap aan alle landsburgers dat gemeenskappe nie hoef te wag vir iemand anders om iets aan verval of agteruitgang te doen nie. “Wanneer ons saamstaan en saamwerk, kan ons die verandering wees wat ons in ons buurte wil sien,” meen hy.
Die buurtspan het ook onlangs gebreekte vensters by die Linden-polisiekantoor herstel en die terrein skoongemaak. In Fontainebleau het die buurtspan die plaaslike park skoongemaak en ’n boom by die Laerskool Fontainebleau verwyder.
’n Liefde vir die gemeenskap dryf buurtspanvoorman
Tredoux is ’n Johannesburger van geboorte. Hy het op skool as atleet uitgeblink en ná skool aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit (RAU, nou die Universiteit van Johannesburg) geswot. Hy en sy vrou Madelein is al 30 jaar getroud.
Oor waarom hy besluit het om sy gewig agter AfriForum en die organisasie se plaaslike buurtspan te gooi is hy duidelik: “Ek het ’n voorliefde vir die gemeenskap en dit is hoekom ek vir AfriForum begin werk het. As lid van die buurtspan dien ek die gemeenskap en help ek ook jong Afrikaners om aan die gang te kom wat in die huidige ekonomiese omstandighede in die land sukkel,” sê Tredoux.
Die ander lid van die span is Johannes du Plessis. Hy is ook in Johannesburg gebore. Hy het onder meer in die IT-bedryf gewerk voor hy by die buurtspan aangesluit het. “Werk het begin skaars word en ek was só bly om ’n geleentheid by die buurtspan te kry. Ek glo dat ons met harde werk baie gedoen kan kry,” hou hy vol.
Besoek Johannesburg-Noord-tak se Facebook-blad om meer oor die buurtspan se projekte uit te vind.



