| |

Khampepe-kommissie: Gerrie Nel doen aansoek om Mbeki te kruisondervra

Video: Kallie Kriel (Afrikaans)
Klankgreep: Kallie Kriel (Afrikaans)

AfriForum het ’n amptelike versoek aan die Khampepe-kommissie van ondersoek gerig dat adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, vir voormalige president Thabo Mbeki by dié kommissie kan kruisondervra. Die kruisondervraging sal verband hou met Mbeki se vermeende politieke inmenging om te verhoed dat hyself en ander senior leiers vervolg word vir die moord op onder meer Kobie van Eck en haar twee jong kinders, Nelmarie (8) en Nasie (2) in ’n ANC-landmynaanval op 15 Desember 1985 naby Musina. Wyle Dirk van Eck het AfriForum in 2007 amptelik versoek om te help toesien dat sou misdade uit die verlede vervolg word, daar ter wille van gelykheid voor die reg ook gevra moet word dat ANC-leiers soos Mbeki, wie se amnestie-aansoek afgekeur is en wat na bewering deelgeneem het aan die besluite wat die ANC gedurende Junie 1985 by Kabwe in Zambië geneem het om onskuldige burgerlikes met terreurdade so landmynaanvalle te teiken, vervolg word vir hulle aandadigheid aan die growwe menseregteskendings wat uit dié besluite voortgevloei het.

Die Khampepe-kommissie is tot stand gebring nadat die familie van die Cradock-4, soos Van Eck destyds, druk begin toepas het om te bepaal in watter sake Mbeki en ander polities ingemeng het om te verhoed dat diegene vervolg word wat verantwoordelik gehou kon word vir die moorde op hulle familielede. Dié kommissie se doel is daarom om ondersoek in te stel na die redes waarom individue wat verantwoordelik was vir politieke misdade tydens die apartheidsjare en nie amnestie gekry het nie, nie vervolg is nie.

Wyle Dirk van Eck by foto’s van sy vrou en kinders tydens ‘n kranslegging.

Mbeki se getuienis voor die Khampepe-kommissie rakende sy vermeende rol om vervolgings van die Waarheid-en-Versoeningskommissie (WVK) se sake te verhoed, sal Maandag (19 Oktober) en Dinsdag (20 Oktober) aangehoor word. Die kruisondervraging sal egter na verwagting op ’n latere datum plaasvind.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het  Mbeki self in paragraaf 42 van sy beëdigde verklaring wat hy onlangs by die Khampepe-kommissie ingedien het, erken dat ANC-leiers “beleids- en uitvoeringsbesluite” (policy and programmatic decisions) geneem het wat tot aksies kon lei wat op “growwe menseregteskendings” neerkom. “Die erkenning deur Mbeki strook met die WVK se bevinding in sy finale verslag dat die ANC verantwoordelik is vir ’n reeks growwe menseregteskendings wat voortgevloei het uit bomaanvalle op openbare geboue, restourante, hotelle en kroeë, asook ’n landmynveldtog,” sê Kriel.

Kriel het self reeds gedurende Februarie vanjaar op eie versoek voor die Khampepe kommisissie getuig en aangedui dat Van Eck daarby sou berus het as alle vervolgings gestaak is, maar het gevoel dit was ’n skending van gelykheid voor die reg dat lede van die voormalige veiligheidsmagte, soos genl. Johan van der Merwe vervolg is, terwyl ANC-leiers nie vervolg is vir hulle besluit om ’n landmynveldtog, genaamd “Operasie Cetshwayo”, teen burgerlikes goed te keur wat tot die dood van sy vrou en kinders gelei het nie.

Volgens Kriel het die ANC strydig met Protokol I van die Geneefse Konvensie, wat die ANC in 1980 onderteken het, opgetree deur ná die Kabwe-konferensie die meerderheid van sy terreurdade op burgerlikes te mik. “Die ANC en hul bondgenote was verantwoordelik vir honderde moorde op burgerlikes, insluitend ongeveer 700 halssnoermoorde (waar ’n brandende motorband om die slagoffer se nek geplaas is), sowat 400 ander lewende verbrandings en byna 250 moorde weens bomontploffings en skietvoorvalle. Die ANC het op verskeie geleenthede heelparty van die terreurdade waarvoor hulle verantwoordelik was, vermeld in hul publikasies soos Sechaba en Mayibuye,” voeg Kriel by.

Benewens Kriel se getuienis voor die Khampepe-kommissie het adv. Nel ook gedurende Februarie vanjaar Cilliers van der Merwe se getuienis voor dié kommissie gelei. Van der Merwe is die seun van die onskuldige burgerlike Jaap van der Merwe wat op 1 November 1978 koelbloedig naby die Botswana grens deur ANC-insypelaars vermoor is. Die Van der Merwe-familie het aan AfriForum ’n mandaat gegee om hulle te ondersteun voor die Khampepe-kommissie.

Cilliers het getuig dat sy oorlede moeder en hulle familie nooit afsluiting kon kry nie omdat sy pa se oorskot tot vandag toe nie opgespoor kon word nie. Die oorlewende verdagte in die moord, wat destyds die skuilnaam John Msibi gebruik het, het nie voor die WVK om amnestie aansoek gedoen nie. Sy identiteit is bekend aan die owerhede. Die Khampepe-kommissie is versoek om te bepaal waarom Van der Merwe se vermeende moordenaar, ten spyte van die getuienis teen hom, nie vervolg is nie.

Van der Merwe is destyds vermoor toe hy ’n saamrygeleentheid wou bied aan ANC-insypelaars wat voorgegee het dat hulle rylopers is. Die een ANC-insypelaar het Van der Merwe sonder rede in die rug geskiet en nadat hy vooroor geval het hom omgedraai en in die gesig geskiet. Dié gebeure en die verdagtes se name is later deur ’n ANC-lid bevestig. Die teleskoop van Van der Merwe se jaggeweer, wat tydens die aanval gesteel is, is ook later in ’n ANC-wapenopslagplek gevind. Die WVK het die moord as die handewerk van ANC-lede gekategoriseer.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik