AfriForum lei nóg agt Vrystaatse skietinstrukteurs op, brei veiligheidsnetwerk uit
AfriForum het die afgelope naweek nóg agt Vrystaters van onder meer Bloemfontein, Bethlehem en Sasolburg as skietinstrukteurs opgelei. Dit bring die totale aantal instrukteurs wat die burgerregteorganisasie reeds landwyd opgelei het sedert hierdie opleidingsprogram, bekend as die Vrywillige Opleidingskorps (VOLK)-skietprogram, in 2022 begin is, op 185 te staan.
Die opleiding word aangebied deur die organisasie se Gemeenskapsveiligheidsafdeling en fokus op skutters se verfyning van veilige vuurwapenhantering, skietvaardighede en die verantwoordelike gebruik van vuurwapens vir selfverdediging. Ná voltooiing van die program is skietinstrukteurs ook formeel opgelei as gekwalifiseerde baanoffisiere wat dié opleiding weer gratis aan lede van hul plaaslike gemeenskappe kan aanbied.
Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid, benadruk dat veiligheid by goed opgeleide en verantwoordelike burgers begin. “Deur mense op te lei om vuurwapens veilig en verantwoordelik te gebruik, dra ons by tot veiliger gemeenskappe en word ’n kultuur van verantwoordelike vuurwapeneienaarskap bevorder,” verduidelik hy.
Die program rus deelnemers ook toe met waardevolle praktiese selfverdedigingsvaardighede, sê Broodryk. “Dié opleiding vorm deel van AfriForum volgehoue strewe om gemeenskappe toe te rus met die kennis en vaardighede wat nodig is om hulself verantwoordelik te beveilig in ’n land waar geweldsmisdaad op onaanvaarbare vlakke voorkom.”


Willie Hattingh van AfriForum se Bethlehem-buurtwag was een van die skuts wat Vrydag en Saterdag se opleiding by die AfriForum-skietbaan buite Bloemfontein ondergaan het. Hattingh, wat in verskeie skietdissiplines as sportskut deelneem, meen dié opleiding was baie waardevol en het ook sy vaardighede en selfvertroue as skut verder ontwikkel. “Om hierdie kursus te kon doen en die kwalifikasie te bekom, bemagtig my om korrek en wettig as baanbeampte op te tree. Dit het my ook toegerus om my eie wapenveiligheid en dié van ander mense op die skietbaan beter en met selfvertroue te hanteer,” verduidelik hy.
Vir Mark Ikking, nog ’n lid van AfriForum se Bethlehem-buurtwag wat die naweek se opleiding voltooi het, gaan hierdie opleiding oor veel meer as net veilige vuurwapenhantering. Vir hom bied hierdie opleiding ook hoop. “AfriForum se benadering is om iets te leer en dan daardie kennis ook aan ander oor te dra. Dít gee my moed en hoop vir ons toekoms,” stel hy dit duidelik.
Volgens Broodryk is die sukses van die program ’n bewys van gemeenskappe se bereidwilligheid om verantwoordelikheid vir hul eie veiligheid te aanvaar. Hy meen dat gemeenskappe toenemend besef dat hulle nie uitsluitlik op die staat vir hul veiligheid kan staatmaak nie. “Deur hierdie opleiding bied AfriForum as’t ware die antwoord op hierdie ongemaklike bewuswording en vervul die organisasie ’n noodsaaklike rol om gemeenskappe op ’n verantwoordelike en wettige wyse te bemagtig sodat hulle beter voorbereid kan wees om hulself en hul geliefdes te beskerm.”
“Die doel is nie bloot om meer mense op te lei nie, maar om ’n landwye netwerk van verantwoordelike, bevoegde en goed opgeleide burgers te vestig wat ’n daadwerklike bydrae tot gemeenskapsveiligheid kan lewer,” sluit Broodryk af.
Raak betrokke en beveilig jouself
AfriForum doen ’n beroep op gemeenskappe wat by die VOLK-skietprogram wil inskakel of opleiding wil ontvang om by hul naaste AfriForum-tak of buurtwag aan te sluit.



