Hoërskoolleerders paraat teen kuberboeliery danksy AfriForum
Die impak van boeliegedrag strek veel verder as die klaskamer, daarom het AfriForum se teenboeliespan onlangs die gr. 8- en gr. 9-leerders van Hoërskool Nelspruit in Mbombela, Mpumalanga besoek en ’n omvattende aanbieding oor boeliegedrag, viktimisasie en verantwoordelike optrede gedoen. Leerders is toegerus met praktiese vaardighede om verskillende vorme van boeliegedrag te herken, gepas daarop te reageer en by te dra tot ’n skoolkultuur waar respek en omgee die norm is.
’n Groot uitdaging van ons tyd is kuberboeliery, wat nie ophou wanneer die laaste skoolklok lui nie. Kwetsende boodskappe, vernederende foto’s, video’s en gerugte kan binne sekondes versprei en kinders tot in die veiligheid van hul eie huise volg. Hoewel Hoërskool Nelspruit ’n selfoonvrye skool is waar leerders die geleentheid kry om op akademie te fokus, sonder die afleidings wat ʼn foon meebring, het die aanbieding beklemtoon dat kuberboeliegedrag dikwels buite skoolure plaasvind wanneer leerders weer toegang tot hul selfone en sosiale media het.

Daar is nie net gefokus op hoe om kuberboeliegedrag te herken nie, maar ook op verantwoordelike digitale burgerskap. Leerders is aangemoedig om krities te dink voordat hulle inhoud deel, nie deel te neem aan die verspreiding van vernederende inhoud nie, bewyse van kuberboeliegedrag te bewaar en hulp by ’n betroubare volwassene te soek wanneer hulle of iemand anders die teiken daarvan word.
“Boeliegedrag verander van vorm wanneer dit aanlyn plaasvind en die impak is dikwels groter juis omdat boelies agter ’n skerm kan wegkruip en dink hulle kan enige iets sê sonder om verantwoordelikheid daarvoor te aanvaar. Ons wil jongmense toerus om bewus te wees van die gevare van kuberboeliery, maar ook om verantwoordelike digitale burgers te wees wat respek, empatie en integriteit uitleef,” sê Mari-Louise Erasmus, aanbieder van AfriForum se teenboelieprogram.
AfriForum moedig ouers aan om gereeld met hul kinders oor hul aanlyn ervarings te gesels en ’n verhouding te bou waar kinders veilig voel om hulp te vra. Wanneer skole, ouers en leerders saamwerk, word dit moeiliker vir boeliegedrag om wortel te skiet – hetsy in die klaskamer, op die sportveld of op sosiale media.
Die teenboelieveldtog het ten doel om jongmense toe te rus met meer as net kennis oor boeliegedrag. Die uiteindelike doel is om ’n generasie te vorm wat kies om met moed op te tree, met empatie te leef en met respek te kommunikeer want boeliegedrag eindig nie by die skoolhek nie en daarom moet respek en verantwoordelikheid ook nie daar eindig nie.
Laai AfriForum se gratis Kuberboeliegids hier af. Vir meer inligting oor AfriForum se Teenboelieveldtog, besoek www.teenboelie.co.za.



