|

AfriForum herstel meer as 150 slaggate op Ottosdal binne net twee weke

Terwyl die Tswaing Plaaslike Munisipaliteit in Noordwes steeds versuim om Ottosdal se paaie in stand te hou, het AfriForum se plaaslike tak binne net twee weke meer as 150 slaggate op dié dorp herstel. Sedert die tak se slaggatherstelprojek in Junie vanjaar hier afgeskop is, is reeds meer as 450 slaggate herstel. Sommige van hierdie slaggate was só groot dat motoriste noodgedwonge van die pad moes afwyk om dit te vermy.

AfriForum het reeds verskeie skrywes aan die munisipaliteit gerig oor die vervalle toestand van die dorp se infrastruktuur, maar het tot dusver geen terugvoer ontvang of enige daadwerklike optrede gesien om daarop te wys dat die munisipaliteit die probleem takel nie.

JP Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland, hou egter vol dat AfriForum se Ottosdal-tak nie langer kon toekyk hoe die dorp se paaie al hoe verder agteruitgaan, terwyl die munisipaliteit geen daadwerklike instandhouding doen nie. Daarom het dié tak nou self ingespring om die slaggatkrisis op dié dorp reg te ruk.

“Die slaggate was só groot dat motoriste selfs ompaaie langs die bestaande pad moes ry om die enorme slaggate te vermy. Dit is onaanvaarbaar dat ’n munisipaliteit wat verantwoordelik is vir die instandhouding van paaie, steeds versuim om dié plig na te kom. Waar die munisipaliteit egter sy plig versuim, sal AfriForum voortgaan om verantwoordelikheid te neem en die nodige instandhouding te doen. Ons gemeenskap verdien veilige, bruikbare en goed onderhoude paaie,” sluit Nel af.

Raak vandag nog betrokke

AfriForum se Ottosdal-tak doen ’n beroep op inwoners om by plaaslike gemeenskapsprojekte betrokke te raak. Die tak se sukses berus op die ondersteuning van die gemeenskap, en saam kan inwoners help om Ottosdal weer ’n veilige, netjiese en leefbare dorp te maak. Klik hier vir meer inligting.

Word n lid

Maak n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf