“Bou jouself”-groentetuin lewer nou konsekwent aan plaaslike voedingsprogramme in Thaba ’Nchu
Die Ikageng-tuin, ’n gesamentlike groentetuinprojek van die Noga’s Post-nedersetting in Thaba ’Nchu, buite Bloemfontein, slaag reeds die afgelope paar maande daarin om maandeliks 400 bossies spinasie aan die voedingskemas van twee plaaslike skole en bejaardes in die gemeenskap te lewer. Die verkope en skenkings wat uit die projek realiseer, is ’n belangrike mylpaal op die projek se pad na volhoubaarheid en winsgewendheid. Dié projek spruit uit die samewerking tussen AfriForum, Saai en kgosi Gaboilelwe Moroka, kgosi van die Barolong Boo Seleka-kultuurgemeenskap.

’n Totaal van 320 bossies word tans maandeliks aan die Maserona Intermediêre Skool en Laerskool Ratau verkoop. Daarbenewens skenk die projek ook maandeliks 40 bossies aan dié voedingskemas sowel as ’n verdere 40 bossies aan bejaardes en gestremdes.
Vanaf Januarie tot Junie vanjaar het die projek reeds 2 230 bossies spinasie opgelewer – waarvan ongeveer 1 750 bossies verkoop en 480 bossies aan hulpbehoewendes geskenk is. ’n Totaal van sowat 710 kg ander groente (230 kg uie, 230 kg aartappels en 250 kg groenbone) is ook sedert Januarie deur hierdie gemeenskapsprojek geoes en verkoop.
Hierdie suksesvolle projek is ses jaar gelede op die been gebring en die betrokke gemeenskapslede het sedertdien waarlik eienaarskap daarvan geneem. Die projek staan sedert die begin van die jaar bekend as die Ikageng-tuin. Die naam, wat die betrokke gemeenskapslede op besluit het, beteken ‘om jouself te bou’ en weerspieël die persoonlike ontwikkeling en vooruitgang wat betrokkenes deur hul harde werk en toewyding vermag.
Gemeenskapslede het boonop deur hul betrokkenheid by die projek ook ’n formele opleidingsprogram, aangebied deur die Sentrale Universiteit van Tegnologie, Vrystaat (SUT), die Universiteit van die Vrystaat (UV) en die Global University of Lifelong Learning, ondergaan. Hierdie opleidingsprogram, bekend as die Baccalaureus Professionele “Pathway to Temong”-program, is daarop gemik om aan gemeenskapslede toegang te bied tot toeganklike en praktiese vaardigheidsopleiding. Die woord Temong beteken ‘om te groei’ en is tekenend van die groei wat hierdie gemeenskapslede ondergaan het deur die voltooiing van vlak 3 tot 5 van hierdie program.


Kgosi Moroka kyk met dankbaarheid terug oor die ses jaar sedert die ontstaan van hierdie projek: “Die Skrif sê: ‘In die sweet van jou aangesig sal jy jou brood eet totdat jy terugkeer na die grond.’ Voedselsekerheid is ’n vredeswaarborg – ons as die Barolong Boo Seleka fokus daarom daarop omdat ons die belangrikheid daarvan verstaan. Dit is tyd! Daar word gesê dat ’n reis van ’n duisend kilometer met ’n enkele tree begin. Ek kan nie glo dat ons nou al oor ses jaar kan terugkyk nie. Ons waardeer die kosbare tyd en elke inset en opoffering wat die bereiking van hierdie mylpaal moontlik gemaak het.”
Sy gaan voort: “Ek is uiters trots op hierdie gemeenskapslede. Hulle het volgehou. Hulle verstaan die visie van ons volk: selfstandigheid en volhoubare lewensbestaan. Geen gemeenskapslid hoef honger te ly of in armoede te berus nie. Ons gee alle heerlikheid aan ons Here en Verlosser. Hierdie suksesverhaal sou nie sonder Hom moontlik gewees het nie. Ons betuig dank aan ons vennote, AfriForum en Saai, wat nooit moeg word nie, veral in die moeilike tye wat mens wil opgee.”
Barend Uys, Hoof van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum, beskryf die afgelope ses jaar se “reis” soos volg: “Dankbaarheid, respek en hoop – dié drie woorde som ons gemoed oor die reis van die laaste ses jaar op. Ons is dankbaar teenoor ons Hemelse Vader en elke mens wat by dié nederige suksesstorie betrokke was en is. ’n Mens kan nie anders nie as om gevul te wees met respek vir al die gemeenskapslede wat met soveel deursettingsvermoë en toewyding werk en eienaarskap neem van hul toekoms. Ons is vol hoop want hierdie gemeenskap se verhaal wys wat bereik kan word wanneer verskillende rolspelers en kultuurgemeenskappe op grond van ’n gedeelde visie en waardes saamwerk.”
Mafusi Ntsane, waarnemende hoofvrou van Noga’s Post, is op haar beurt hoopvol dat hierdie suksesverhaal ook ander sal inspireer. “Ons is trots op wat ons as gemeenskapslede regkry. Ons hoop dat ons storie ook ander gemeenskappe sal inspireer om ondersteuning en geleenthede wat gebied word om hulself te help, aan te gryp. Ons wys wie ons is, deur wat ons doen en bereik. Ons nooi ander rolspelers wat ook graag deel van ons mooi storie wil wees om by Ikageng-tuin betrokke te raak. Verdere infrastruktuurbeleggings, soos skadunette, sal vir ons ’n groot positiewe verskil maak.”
Saai, ’n landbounetwerk vir boere, is ook by hierdie projek betrokke. Die organisasie se ontwikkelingskoördineerder, Leon Lourens, meen daar skuil iets besonders in die Barolong Boo Seleka-kultuurgemeenskap: “Hierdie kultuurgemeenskap, soos ander diep landelike gemeenskappe, het alles wat geld nie kan koop nie: goeie mense en grond met landboupotensiaal. Dit is ’n voorreg vir Saai om deel te wees van hierdie gesamentlike poging om dié potensiaal te ontsluit deur die modernisering, meganisering en kommersialisering van kleinskaalse boerderybedrywighede.”
Ntsane sluit af: “Ons bedank AfriForum en Saai uit die diepte van ons hart. Ons grootste boerdery-uitdaging was besproeiing, en deur hul ondersteuning het nie net ons tuin nie, maar ook ons dorpie nou betroubare toegang tot water. Gemeenskapslede beskou die groenteprojek as ons toekomstige sake-onderneming en mekaar as sakevennote met die leuse Ikageng ka diratswana wat ‘bou onsself deur tuine’ beteken.”
AfriForum en Saai is by die Ikageng-tuin betrokke deur hul landbou-ontwikkelingsinkubator, Resilient Regenerative Agricultural Initiative (RRAIN).
Die ontwikkeling van die projek










