AfriForum Jeug leer eerstehands van Klerksdorp se omgewingsuitdagings
Op 7 Julie 2026 het jeuglede van oor Suid-Afrika heen, as deel van AfriForum Jeug se mentorskapprogram, Klerksdorp besoek om eerstehands meer te leer van die omgewingsuitdagings waarmee dié dorp daagliks te kampe het.
Onder leiding van Frans Roos, Romke de Jongh en Alta Pretorius het die groep verskeie plekke besoek waar hulle self kon sien hoe swak infrastruktuur, besoedeling en ander omgewingskwessies die gemeenskap raak.
Die eerste stop was by die Klerksdorp-rioolwerke, waar die jeuglede die vervalle toestand van die aanleg gesien het. Hier het hulle meer geleer oor hoe jare se verwaarlosing en die stroop van infrastruktuur daartoe gelei het dat riool nie meer behoorlik verwerk word nie. Die groep het ook gehoor hoe hierdie probleem die Schoonspruit, Vaalrivier en uiteindelik die Oranjerivier beïnvloed.
Die toer het daarna voortgegaan na die Klerksdorp vullisterrein, waar die jeuglede eerstehands gesien het onder watter moeilike omstandighede sommige mense leef en hul bestaan maak deur herwinbare materiaal uit afval te versamel. Die besoek het die belangrikheid van verantwoordelike afvalbestuur en omgewingsbewaring verder beklemtoon.
By Doringkruin het die groep meer geleer oor die werk wat AfriForum doen om die gebied netjies en veilig te hou. Die toer is afgesluit by Palmietfontein-vleiland, waar die jeuglede ingelig is oor die belangrike rol wat vleilande speel en waarom die beskerming van hierdie sensitiewe gebiede so noodsaaklik is.
Vir Bernard Coetzee was die besoek aan die rioolwerke die deel van die toer wat die grootste indruk gemaak het.
“Dit was baie skrikwekkend om te sien dat ’n stelsel wat veronderstel is om te werk, so verval kan wees,” sê Coetzee.
Logan van der Merwe sê die toer het hom opnuut laat besef hoe belangrik gemeenskapsorganisasies soos AfriForum is.
“Dit is vir ons ‘n riem onder die hart dat ’n organisasie soos AfriForum ingestel is om in te gryp en druk toe te pas op die plaaslike regering met betrekking tot die vervalle toestand van ons dienslewering en infrastruktuur,” sê Van der Merwe.
Volgens Frans Roos is dit belangrik dat jongmense nie net van hierdie uitdagings hoor nie, maar dit ook self beleef.
“Wanneer jongmense die werklikheid van hierdie uitdagings eerstehands ervaar, besef hulle hoe belangrik dit is om betrokke te raak en ’n verskil in hul eie gemeenskappe te maak.”
AfriForum Jeug se mentorskapprogram bied jongmense die geleentheid om praktiese ervaring op te doen, nuwe perspektiewe te ontwikkel en meer te leer oor die uitdagings én oplossings wat gemeenskappe regoor Suid-Afrika raak.
Om aan te sluit by AfriForum se Klerksdorp-tak, kontak gerus vir SW Scott by 082 806 7484.















