|

Ons vir jou-musiekspel roer gehore by AfriForum Teater; openingsnaweek reeds uitverkoop

Die opening van die musiekspel Ons vir jou by die AfriForum Teater het die gehoor gisteraand betower met ’n kragtige produksie wat die rou menslike ervarings van die Tweede Vryheidsoorlog opreg en respekvol na die verhoog bring. Dié musiekspel, met bekendes soos Bok van Blerk (as genl. Koos de la Rey) en Nadia Beukes (as Nonnie de la Rey), is vanjaar vir die eerste keer in bykans ’n dekade weer op die planke en is tot 24 Mei te sien by die AfriForum Teater in Pretoria.

Kristi Steyn (as Meisie)

Ons vir jou herinner die gehoor daaraan dat oorloë geen oorwinnings oplewer nie. Dit vertel die bittere verhaal van families wat uitmekaar geskeur word, gemeenskappe wat verwoes word en gewone mense wat deurentyd die swaarste dra aan die donker las van oorlog. Teen dié agtergrond wys Ons vir jou dat medemenslikheid, liefde én volharding uiteindelik swaarder weeg as enige vlag of uniform.

Volgens Salet Smith, bestuurder van AfriForum Teater, plaas die produksie voorts ook die opofferings van vorige geslagte weer in perspektief. “Dit herinner gehore aan hoe die verlede vandag nog in ons taal, kultuur en gemeenskappe voortleef. Ons vir jou is nie net ’n teaterstuk nie; dit is ’n herinnering aan die mens agter die geskiedenis – en ’n uitnodiging om met nuwe waardering na ons erfenis en mekaar te kyk.”

Gaste wat gisteraand se opening bygewoon het, beskryf Ons vir jou onder meer as “emosioneel en kragtig”, “’n storie wat jou laat dink” en “’n produksie wat lank ná die laaste noot nog by jou bly”.

Ons vir jou, uit die pen van Deon Opperman en Sean Else, en met musiek deur Johan Vorster, is ’n tydlose teaterervaring wat oud en jonk sal begeester. Dit word met trots aangebied by die AfriForum Teater. Teatergangers en geskiedenis- en musiekteaterliefhebbers word uitgenooi om dié verhaal eerstehands te kom beleef. Die openingsnaweek se vertonings is reeds uitverkoop en kaartjies vir die res van die speeltyd is beperk.

Besonderhede:

Datum: Van 29 April tot 24 Mei 2026

Plek: AfriForum Teater, Pretoria

Kaartjies beskikbaar by www.onsvirjou.com

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners