|

Geen STOP aan AfriForum in Volksrust!

AfriForum se Volksrust-tak stoomroller behoorlik teen ’n volle vaart voort met hul stopteken-projek op dié dorp. In die afgelope maand het die tak nie minder nie as 11 stoptekens herstel of vermiste tekens vervang. Dit bring die totale aantal stoptekens wat die tak die afgelope jaar in Volksrust herstel het, op 56 te staan.

Smitstraat was die afgelope maand in die tak se visier en elf borde is vervang op hierdie belangrike toegangspad se kruisings met Monument-, Adelaide Tambo-, De Kock-, Pendoring-, Knoppiesdoring-, Krinkhout- en Tontelbosstraat. ’n Stopteken is ook opgerig by die ingang na die Green Acres-kompleks in Smitstraat.

Volgens Johan Kennard, voorsitter van AfriForum se Volksrust-tak, maak hierdie projek ’n reuseverskil in dié dorp. “Elke stopteken wat reeds deur hierdie projek herstel of opgerig is, lei tot verbeterde padveiligheid vir motoriste én voetgangers,” sê Kennard.

Die tak skop eersdaags ook sy slaggatherstelprojek af. Lou Duvenhage, taklid aan die stuur van hierdie projek, hou vol dat dié projek van kritieke belang is aangesien inwoners van Volksrust lank reeds sukkel met die toestand van paaie op die dorp.

“As ons hande vat, kan ons die dorp begin herstel. Indien inwoners die asfalt betaal kan AfriForum die arbeid voorsien en toesien dat die werk volgens die korrekte metode gedoen word,” verduidelik Duvenhage.

Die gemeenskap word aangemoedig om vandag nog by hierdie projek betrokke te raak. Kontak Lou Duvenhage per WhatsApp by 082 928 1220.

Besoek www.wordlid.co.za om by AfriForum se Volksrust-tak aan te sluit.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf