|

AfriForum se ingryping lei tot vervolging in beweerde verkragtingsaak waar vrou se drankie gedokter is

Meer as ’n jaar nadat druk deur AfriForum se privaatvervolgingseenheid die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) genoop het om ’n ernstige saak van geslagsgebaseerde geweld te ondersoek, sal die man wat daarvan beskuldig word dat hy sy buurvrou se drankie gedokter en haar verkrag het, uiteindelik vervolg word. Die slagoffer, ’n enkelma wie se identiteit weerhou word, het een oggend in April verlede jaar bebloed en vol kneusplekke in die hospitaal wakker geword, sonder enige herinnering aan wat gebeur het nadat sy die vorige aand ’n glas wyn ontvang het nie. Terwyl sy in die hospitaal bygekom het, het haar familielede by haar woonstel in die Moot-omgewing aangekom en bloed oral in die woning aangetref.

Die beskuldigde het vandag vlugtig in die Pretoria Landdroshof verskyn. Sy identiteit mag nie bekendgemaak word voordat hy op die aanklagte gepleit het nie. Die saak is tot 5 November uitgestel sodat die dossier aan die verdediging beskikbaar gestel kan word.

Ondanks die feit dat die voorval reeds in April verlede jaar aangemeld is, het die polisie teen Julie steeds nie die verklarings van die vrou of moontlike getuies geneem nie. Sy het haar daarna tot AfriForum se privaatvervolgingseenheid gewend. ’n Strafsaak is eers op 22 Julie 2025 geregistreer, ’n dag nadat die eenheid die aangeleentheid onder die aandag van die provinsiale hoof van die polisie se eenheid vir Gesinsgeweld, Kinderbeskerming en Seksuele Misdrywe (GKS) gebring het. AfriForum se privaatvervolgingseenheid moes hom tot dié eenheid wend nadat die GKS-eenheid by die Moot-polisiestasie versuim het om op versoeke te reageer om ’n dossier te open en die saak te ondersoek.

Die slagoffer, wie se identiteit weerhou word.

Die klaagster, wat herhaaldelik self by die polisie aangedring het dat die ondersoek vorder, het haar verligting uitgespreek dat die saak uiteindelik op die hofrol geplaas is. “As ek nie advokate Phyllis Vorster en Gerrie Nel se hulp ingeroep het nie, en as ons nie verder druk op die owerhede geplaas het nie, glo ek werklik hulle sou die saak bloot onder die mat ingevee het,” sê die slagoffer.

“Dit het baie telefoonoproepe, baie gebede en talle versoeke van ‘doen asseblief net julle werk’ geverg voordat dinge uiteindelik begin gebeur het. Ek is bly hulle het iets gedoen, want nou kan ons uiteindelik hof toe gaan en my saak bewys. Ek glo Gerrie [Nel], Phyllis [Vorster] en AfriForum het dit vir my moontlik gemaak om die punt te bereik waar ons uiteindelik ’n hofdatum het.”

Die slagoffer beweer dat sy op die aand van 20 April 2025 na haar buurman se woonstel genooi is om iets te drink. Sy onthou dat sy iets uiters bitter geproe het voordat sy haar geheue van die res van die aand verloor het. Sy het eers die volgende dag in die Tshwane Distrikshospitaal wakker geword.

Toe haar familielede haar nie in die hande kon kry nie en na haar woonstel gegaan het, het hulle bloedspatsels op die vloere en mure aangetref, asook die buurman se kamerjas in haar slaapkamer. Haar klere is later by sy woning gevind. Sy is daardie aand by ’n privaat hospitaal ondersoek, waar monsters vir ’n forensiese ondersoek ná die beweerde verkragting geneem is. Die dokters het ook die voorval by die polisie aangemeld.

Barry Bateman, woordvoerder van die privaatvervolgingseenheid, sê die hofverskyning volg op president Cyril Ramaphosa se aankondiging oor ’n oudit en herstelplan vir sake van geslagsgebaseerde geweld wat tot stilstand gekom het of laat vaar is. “Die opdraande stryd om te verseker dat hierdie saak behoorlik ondersoek en uiteindelik op die hofrol geplaas word, getuig van die owerhede se volslae minagting vir sake van geslagsgebaseerde geweld. AfriForum se privaatvervolgingseenheid beveg reeds sedert sy stigting in 2017 hierdie apatie,” sê Bateman.

“Die eenheid het die afgelope paar weke verskeie sake uitgelig, waaronder verkragtings, poging tot moord en aanrandings op vroue, waarin verdagtes reeds tot vyf jaar lank op vrye voet is. Ons wag steeds op terugvoer van die polisie, en hierdie versuim om te reageer voorspel niks goeds vir die suksesvolle uitvoering van die president se plan om die situasie reg te stel nie.”

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik