AfriForum help met verspreiding van Super Value Foods-skenking na Kariega-sopkombuise
AfriForum se Winterberg-plaaswag in Kariega het op 11 Junie ’n belangrike rol gespeel in die verspreiding van Super Value Foods se voedselskenking na plaaslike sopkombuise. Ná twee vloede binne 30 dae, gepaardgaande met krag- en watertekorte en ’n windstorm, het al meer mense hulle tot sopkombuise gehaas vir iets te ete. Super Value Foods het onmiddellik ingespring en hulp aangebied aan sopkombuise, wat nie kon voorbly met die groeiende aanvraag nie.
Super Value Foods het op AfriForum en Woga-sekuriteit staatgemaak om te verseker dat alle voedsel so gou moontlik die sopkombuise bereik. Milinda Ferreira van AfriForum se Winterberg-plaaswag het die skenking verwelkom. Volgens haar is hierdie aksie net nog ’n voorbeeld van wat moontlik is as gemeenskappe self verantwoordelikheid neem om krisisse in hul eie dorp op te los. In tye soos hierdie, waar baie huishoudings onder druk verkeer en die koue die nood vererger, maak skenkings soos dié ’n groot verskil.
AfriForum moedig ander ondernemings en gemeenskapslede aan om by soortgelyke inisiatiewe betrokke te raak en plaaslike sopkombuise, welsynsorganisasies en gemeenskapsprojekte te ondersteun.
Super Value Foods het ook alle rolspelers en vrywilligers vir hul ondersteuning tydens die krisis bedank.
AfriForum moedig die publiek aan om by hul naaste AfriForum-tak aan te sluit. Besoek www.afriforumbuurtwag.co.za vir meer inligting of om betrokke te raak.



