Konflik of boeliegedrag? Laerskool Unika se leerders leer die verskil
AfriForum se teenboeliespan het verlede week by Laerskool Unika in Randburg besoek afgelê en aan die skool se byna 800 leerders meer geleer oor die belangrike verskil tussen konflik en boeliegedrag. Dié interaktiewe aanbieding het waardevolle inligting en praktiese strategieë aan leerders gebied om hierdie verskil te herken en hulle te bemagtig om boeliegedrag met selfvertroue en verantwoordelikheid te takel.



In ’n tyd waar die terme konflik en boeliegedrag dikwels as sinonieme gebruik word, het die aanbieding daarop gefokus om leerders te help verstaan dat nie elke meningsverskil of argument boeliegedrag is nie. Deur hierdie onderskeid te verstaan, kan kinders beter reageer op uitdagings en meer verantwoordelike besluite neem.
“Konflik is ’n normale deel van die lewe en kom voor wanneer mense verskillende menings, behoeftes of perspektiewe het. Boeliegedrag, daarenteen, is doelbewuste, herhalende gedrag wat daarop gemik is om iemand seer te maak, te verneder of uit te sluit. Dit word ook gekenmerk deur ’n magswanbalans tussen die partye,” verduidelik Mari-Louise Erasmus, aanbieder van AfriForum se teenboelieprogram.
“Wanneer kinders die verskil tussen konflik en boeliegedrag verstaan, word hulle bemagtig om situasies reg te beoordeel en gepas op te tree. Hierdie kennis help om onnodige konflik te verminder, en verseker dat werklike boeliegedrag betyds geïdentifiseer en getakel word,” sê Erasmus.
Anina Erasmus, ’n maatskaplike werker verbonde aan Laerskool Unika, sê dat die leerders van dié skool groot waarde uit AfriForum se teenboelie-aanbieding geput het. “Die program het nie net gefokus op die hantering van boeliegedrag nie, maar ook op die bevordering van respek, vriendelikheid, moed en verantwoordelikheid. Die inhoud het mooi aangesluit by die beginsels van die wapenrusting van God en leerders aangemoedig om met waarheid, geloof en vrede op te tree. Inisiatiewe soos hierdie help om ’n veilige en positiewe skoolomgewing te bevorder.”
AfriForum se teenboelieprogram fokus nie net op die identifisering van boeliegedrag nie, maar ook op die ontwikkeling van die vaardighede en waardes wat nodig is om dié gedrag te voorkom. AfriForum moedig skole landwyd aan om deel te word van hierdie inisiatief en saam te werk om boeliegedrag daadwerklik die hoof te bied.
Vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveldtog en aanbiedinge by skole stuur gerus ’n e-pos aan onderwys@afriforum.co.za.



