|

AfriForum mobiliseer gemeenskappe om die suidstreek te verbeter

AfriForum se takke in die suidstreek het die afgelope twee maande met verskeie praktiese aksies in die Wes- en Oos-Kaap gewys dat gemeenskappe nie magteloos is in die stryd teen munisipale verval nie. Plaaslike takke, buurtwagte en vrywilligers in dié streek het as deel van AfriForum se deurlopende pogings om gemeenskappe met sy herstel-en-versnel-veldtog te verbeter, skouer aan die wiel gesit om hul dorpe veiliger, skoner en meer funksioneel te maak.

Die suidstreek het gedurende hierdie tyd altesaam 24 aksies aangepak wat onder meer gemeenskapsveiligheid, skoleveiligheid, noodhulp, skoonmaakprojekte, opleiding en opknappingsprojekte insluit.

In die Tuinroete het AfriForum se Knysna-buurtspan ’n belangrike rol gespeel nadat verwoestende storms wydverspreide skade in gemeenskappe gerig het. Dié buurtspan het onder meer bome verwyder wat in Knysna, Simola, Rexford en Buffelsbaai omgewaai het. Die span het ook op versoek van die Tuinroete Distriksmunisipaliteit in George gehelp om bome van paaie af te verwyder. By Laerskool Karatara is bome op die skoolterrein verwyder, terwyl die paaltjieheining langs die N2 in Sedgefield in samewerking met die gemeenskap herstel is.

AfriForum se George-tak het ook kospakkies aan sowat 800 kinders oorhandig wat tydelik weens die storms verplaas is. Dit terwyl die plaaslike bestuur in Worcester 60 brode aan ’n kerk oorhandig het om mense te help voer wat ná die storms dakloos gelaat is.

In die Oos-Kaap het AfriForum se Mosel-buurtwag in Kariega binne vyf uur nege bome van paaie af verwyder, waaronder ’n groot akkerboom. Ander buurtwagte in die Gqeberha-omgewing het met verkeersbeheer, die verwydering van bome, die monitering van riviere en die afsluiting van oorstroomde strate gehelp. Die Winterberg-buurtwag het padgebruikers met voertuie en vragmotors in modderige paaie bygestaan en waarskuwingsmaatreëls ingestel om padgebruikers veiliger te hou. In Cradock het vrywilligers ook ’n begraafplaas skoongemaak.

Die takke in die suidstreek het ook uit oudergewoonte ’n sterk fokus op veiligheid geplaas oor die afgelope twee maande. AfriForum se Oudtshoorn-buurtwag het veiligheidsoudits by Langenhoven Gimnasium en Laerskool Wesbank gedoen, terwyl AfriForum se Oudtshoorn-tak ligte op Laerskool Wesbank se terrein vervang het om hul sekuriteit op te skerp. In Paarl het drie buurtwaglede ’n protospan-instrukteurskursus in Mosselbaai voltooi wat hulle in staat stel om toekomstige buurtwaglede op te lei.

AfriForum se takke het ook skoonmaak- en opknappingsprojekte aangepak. In Albertinia het AfriForum Jeug se Hessekwa-tak en AfriForum se Knysna-buurtspan ’n skoonmaakaksie van stapel gestuur waartydens 38 sakke vullis gevul is. AfriForum se Theewaterskloof-tak het in Botrivier gras gesny en takke verwyder ná stormskade. In die Overstrand is indringerplante en bome wat fynbos bedreig, verwyder, terwyl Kleinmond se hoofstraat en die Hangklip-afdraai verfraai is. AfriForum se Bredasdorp-buurtwag het ook komberse, mussies, kerse en kos aan die gemeenskap van Spanjaardskloof oorhandig.

“Hierdie aksies wys presies wat AfriForum beoog om met die herstel-en-versnel-veldtog te bereik: Gemeenskappe uit te bou en te verbeter wat nie net oor die verval kla nie, maar self verantwoordelikheid neem vir hul omgewings,” sê Jurie Ferreira, AfriForum se hoof van die suidstreek.

Die doel van die veldtog is nie om munisipaliteite of owerhede se verantwoordelikhede oor te neem nie, maar om plaaslike gemeenskappe te mobiliseer en praktiese oplossings te bevorder waar probleme inwoners se veiligheid, waardigheid en leefomgewing raak.

“Of dit nou is om bome ná storms uit paaie te verwyder, skole veiliger te maak, kos aan behoeftiges te gee, begraafplase skoon te maak of buurtwagte beter op te lei – elke aksie bou aan sterker, meer selfstandige gemeenskappe. Die suidstreek se takke wys dat gewone mense ’n buitengewone verskil kan maak wanneer hulle georganiseerd saamwerk,” sê Ferreira.

AfriForum doen ’n beroep op die inwoners van die Wes- en Oos-Kaap om by hul plaaslike AfriForum-takke betrokke te raak en deel van praktiese gemeenskapsoplossings te word.

“Ons gemeenskappe kan nie bekostig om passief te bly nie. Elke straat wat skoongemaak word, elke boom wat verwyder word, elke kind wat gehelp word en elke buurtwaglid wat opgelei word, is ’n stap nader aan ’n veiliger en beter Suid-Afrika,” sluit Ferreira af.

Sluit vandag by AfriForum aan en help ons om nóg oorwinnings vir jou gemeenskap te behaal. Klik hier vir meer inligting.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf