|

AfriForum-buurtwagte in Gauteng help bykans 60 misdadigers tydens massapatrollie vastrek

AfriForum se 178 buurt- en plaaswagstrukture het die afgelope naweek hul derde landswye massapatrollie vir die jaar aangepak en daartydens nagenoeg 56 verdagtes in Gauteng in hegtenis geneem vir onder meer dronkbestuur en die besit en handel van dwelms.

Dié gekoördineerde landswye massapatrollie was daarop gemik om sigbare patrollering te verhoog, samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), gemeenskapspolisiëringsforums (GPF’s) en ander veiligheidsrolspelers te versterk, en AfriForum se veiligheidstrukture se paraatheid te toets.

Pretoria

In Pretoria het AfriForum se Noord van die Berg-buurtwag, wat onlangs polisieopleiding ontvang het om onder meer aan gesamentlike operasies met die SAPD deel te neem, broodnodige bystand aan die polisie gebied, wat tot die inhegtenisneming van 53 verdagtes gelei het.

“Misdaad ken geen grense nie, daarom het ons buurtwag sonder twyfel die uitnodiging van die SAPD in Erasmia en Olievenhoutbosch aanvaar om deel te wees van hul gesamentlike operasies,” sê Ruan Janse van Vuuren, voorsitter van AfriForum se Noord van die Berg-tak en hoof van gemeenskapsveiligheid by dié tak.

“Met die opleiding wat die buurtwaglede onlangs ontvang het kon wetstoepassers met geruste harte weet dat ’n bekwame en opgeleide span tot hul bystand sal kom.”

Die buurtwag het op 9 Oktober die polisie gehelp om ses onwettige immigrante in hegtenis te neem, sewe verdagtes vas te trek vir die besit en handel van dwelms, asook drie verdagtes vir die onregmatige verkoop van drank.

Op 10 Oktober is dié buurtwag weer ontplooi om as ’n belangrike magsvermenigvuldiger te dien by ’n padblokkade, waar nege motoriste in hegtenis geneem is vir dronkbestuur en 28 onwettige immigrante vasgetrek is.

Johannesburg

Altesaam 17 lede van AfriForum se Benoni-buurtwag het tydens dié massapatrollie daarop gefokus om die sigbaarheid van gemeenskapsveiligheidstrukture te verhoog. Dié buurtwag het daarom meer as 1 000 km se patrollies om onder meer Great North-weg en John Barrable Hall afgelê.

AfriForum se Germiston-buurtwag het ook die polisie, die GPF en private veiligheidstrukture gehelp om drie verdagtes vas te trek wat ’n onwettige kabelverbinding in Mimosapark gevestig het. Hierdie buurtwag het ook op ’n inbraak by Daeraad Pre Primêr gereageer en die polisie ondersoek die saak verder.

“Gemeenskapsveiligheid begin by die vrywilligers wat elke dag poog om hul onmiddellike omgewing te beveilig. Hierdie nasionale patrollie gee die geleentheid om landswyd die impak van buurtwagte en georganiseerde gemeenskappe ten toon te stel en die suksesse praat vir hulself,” sê Dewet Ungerer, AfriForum se hoof van Gemeenskapsveiligheid in die noordstreek.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

Veiligheid