Streng gevolgebestuur moet op NERSA-tribunaal volg, sê AfriForum
AfriForum het gister kragtens die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) ’n aansoek aan die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (NERSA) gerig om die direktiewe, wat uit die reguleerder se eerste tribunaalsitting ingevolge die Wet op Elektrisiteitsregulering voortspruit, bekend te maak. Dit sluit bevindinge in van voldoeningsoudits, tribunaalriglyne, remediërende stappe wat aan elektrisiteitslisensiehouers opgelê is, en die meganismes wat ingestel is om te verseker dat dit deurgevoer word. Die organisasie voer aan dat hierdie inligting deursigtigheid en verantwoordbaarheid in die openbare belang sal verseker.
NERSA se eerste tribunaalsitting het in Desember plaasgevind en het sake van nienakoming teen elektrisiteitslisensiehouers aangehoor. Dit volg ná volgehoue druk vir groter regulatoriese verantwoordbaarheid en afdwinging binne die elektrisiteitsektor. AfriForum was die afgelope paar jaar betrokke by verskeie klagtes en regsprosesse wat daarop gemik was om NERSA te dwing om sy statutêre bevoegdhede as reguleerder ten volle na te kom, veral waar diensleweringsprobleme en onwettige praktyke gemeenskappe en kragverbruikers direk raak.
“Die tribunaal is ’n noodsaaklike stap in die herstel van die energiereguleerder se geloofwaardigheid en moes al lankal plaasgevind het. Dié proses het egter slegs werklike waarde as ferm gevolgebestuur daaruit voortspruit. As lisensiehouers nie aan wetgewende en lisensiestandaarde voldoen nie, moet daar beslis, deursigtig en volhoubaar teen hulle opgetree word,” sê Morné Mostert, bestuurder vir Plaaslikeregeringsake by AfriForum.
AfriForum beklemtoon dat nienakoming deur elektrisiteitslisensiehouers (soos veral munisipaliteite) direkte en ernstige gevolge vir gemeenskappe inhou, insluitend onveilige infrastruktuur, onwettige kragonderbrekings, onbetroubare kragtoevoer en stygende koste.
Met meer as 160 takke oor die land heen is AfriForum ideaal geposisioneer om te help met die monitering van nakoming op voetsoolvlak en om wettige pogings vir afdwinging deur die reguleerder te ondersteun.
“’n Reguleerder kan nie in isolasie optree nie. Die burgerlike samelewing en gemeenskappe ervaar dikwels eerste die gevolge van regulatoriese mislukking. AfriForum sal dus aktief betrokke bly by die elektrisiteitsektor en deur formele klagtes en konstruktiewe betrokkenheid verseker dat nakoming nie net op papier beveel word nie, maar ook in die praktyk geïmplementeer word,” sluit Mostert af.



