Klein span, groot impak: AfriForum se Kuruman-Kathu-buurtspan maak reuseverskil binne eerste twee maande
AfriForum se Kuruman-Kathu-buurtspan is skaars twee maande gelede op die been gebring, en tog het dié dinamiese span met sy twee voltydse werkers reeds ’n merkbare verskil in Kuruman, Kathu en ander omliggende dorpies gemaak.
Dié hardwerkende manne laat beslis nie die gras onder hul voete groei nie en het reeds bykans 20 ton vullis in Kathu en Kuruman verwyder, slaggate herstel en verskeie skoonmaakaksies by plaaslike skole aangepak.
Carel Roets, die span se voorman, sê dit is wonderlik om die tasbare verskil wat hulle maak, te sien. “Ons is ’n klein span, maar dit beteken nie dat ons nie ’n reuseverskil kan maak nie. Ons wil aanhou om waar ons kan, prakties tot die gemeenskap by te dra en die gebiede waarin ons werk, te verbeter,” sê hy.

Behalwe vir die vullis wat die Kuruman-Kathu-buurtspan reeds verwyder het, herstel die span ook deurlopend slaggate, sny gras en hou parke skoon. In Kuruman het hulle onder meer ook by die Hoërskool Kalahari en die Laerskool Seodin skoonmaakprojekte aangepak. Tydens dié projekte is oorgroeide bosse gesnoei en gras is gesny om sigbaarheid te verbeter en sodoende die veiligheid van leerders, onderwysers en ouers te verhoog. Soortgelyke werk is intussen ook by die Hoërskool Kathu en Laerskool Kathu onderneem.
’n Skoonmaakprojek is by die NG Kerk Deben in Dibeng, noordwes van Kathu, aangepak en slaggate is ook in die hoofstraat van dié dorpie herstel. Die buurtspan het die werk gedoen met materiaal wat die gemeenskap vir die projek geskenk het.
Lize-Mari Smit, AfriForum se distrikskoördineerder in die Noord-Kaap, sê die buurtspan doen waardevolle werk. “Soos baie ander plattelandse dorpe gaan ons dorpe in die Noord-Kaap ook gebuk onder swak munisipale dienslewering. Ons gemeenskappe trek swaar en ons hoop die dat die buurtspan ’n wesenlike verskil sal maak om dié verval teë te werk,” sluit sy af.



