|

Eerste opleiding wys wat moontlik is as SAPD en AfriForum saamwerk

Deur Megan Swart

Samewerking tussen burgerlike veiligheidstrukture en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) speel al vir jare lank ’n belangrike rol in misdaadvoorkoming. Pogings om só ’n vennootskap te laat formaliseer het die afgelope naweek verder momentum gekry toe polisiebeamptes verbonde aan die Pretoria-Noord-polisiestasie vir die eerste keer opleiding aan AfriForum se Noord van die Berg-, Wes-Moot- en Brits-buurtwagte gebied het en direk daarna saamgewerk het om bykans 30 arrestasies uit te voer.

AfriForum se buurtwaglede ontvang reeds uitgebreide opleiding om te verseker dat hulle opgewasse is om onder meer arrestasies uit te voer en ingelig is oor hul regte, pligte en verantwoordelikhede as lede van ’n burgerlike veiligheidstruktuur. Hierdie polisieopleiding was daarop gemik om aktiewe buurtwaglede se bestaande kennis en vaardighede verder uit te brei sodat hulle onder meer aan gesamentlike operasies met die SAPD kan deelneem.

Die 34 buurtwaglede wat aan hierdie opleidingsgeleentheid deelgeneem het, het voortgegaan om die einste naweek aan gesamentlike operasies met die SAPD deel te neem waarin 27 motoriste in hegtenis geneem is vir onder meer dronkbestuur.

Volgens Ruan Janse van Vuuren, voorsitter van AfriForum se Noord van die Berg-tak en hoof van gemeenskapsveiligheid by dié tak, is dit ’n bewys dat samewerking tussen verskeie veiligheidsrolspelers een van die belangrikste sleutels tot sukses is wanneer dit by gemeenskapsveiligheid kom.

“Samewerking is noodsaaklik want burgerlike veiligheidstrukture kan nie die polisie se werk oorneem nie en die polisie het nie die kapasiteit om oral voete op die grond te hê nie. Gemeenskapsveiligheidstrukture kan net soveel doen en het net soveel magte as burgers, maar in samewerking met die polisie, wat die uitvoerende mag is wanneer dit by misdaadbekamping kom, kan goed opgeleide en gedissiplineerde burgerlike veiligheidstrukture of buurtwaglede ’n arrestasie uitvoer en met sekerheid die verdagte aan die polisie oorhandig om die saak verder te ondersoek,” sê hy.

Opleidingsgeleenthede soos dié skep die geleentheid vir die SAPD om praktiese kennis oor te dra en die koördinering en begrip tussen verskillende rolspelers te verbeter wanneer hulle saam op grondvlak optree.

Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid, sê formele samewerking tussen die SAPD en buurtwagte is ’n noodsaaklike komponent tot volhoubare misdaadbekamping. AfriForum het daarom die afgelope paar jaar polisieministers en nasionale polisiekommissarisse aangemoedig om vennootskappe soos hierdie te laat formaliseer.

“Hierdie polisiestasie se opleidingsgeleentheid dien as voorbeeld van hoe formele samewerking met gemeenskapsveiligheidstrukture prakties kan werk as dit landwyd uitgerol word. Die polisie het op grondvlak met verskeie uitdagings te doen, maar as wetstoepassers goed opgeleide burgers het wat hul hande kan versterk, is dié soort samewerking tot voordeel van die hele gemeenskap,” sê hy.

“Intussen sal AfriForum voortgaan om opleiding aan burgers te bied en sterk plaaslike veiligheidstrukture te vestig om gemeenskappe te bemagtig om verantwoordelik en binne die raamwerk van die wet ’n aktiewe rol in hul eie veiligheid te speel.”

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

Veiligheid